Gee jou kreatiwiteit vlerke

0
412
Gaste raak kreatief by ’n vorige geleentheid. FOTO: VERSKAF

Brush & Beyond bied ’n Pair x Paintgeleentheid op 27 April om 14:30 by Inibos in Langenhovenpark aan. Volgens die stigter, Jade van Gensen, sal die geleentheid bestaan uit ‘n wynparing (beide alkoholies en niealkoholies) met Lindt-sjokolade.

“Of jy nou ’n gesoute kunstenaar is of net vir die eerste keer ’n verfkwas optel, daar is iets vir almal by hierdie geleentheid. Ons fokus op ontspanning, ’n goeie gemoedstemming en genot, so jy het geen artistieke vaardighede nodig om deel te neem aan die pret nie,” het Van Gensen gesê.

Sy het bygevoeg dat gemeenskapslede nie die kans moet misloop om hul kreatiwiteit te ontketen en blywende herinneringe te maak nie.

Van Gensen het aan die publikasie gesê om mense byeen te bring deur onvergeetlike gebeurtenisse was ’n jare lange strewe van haar, en nou is sy verheug om te sien hoe dit met Brush & Beyond tot stand kom.

“Ons spesialiseer in die aanbied van verfpartytjies vir alle ouderdomme en geleenthede, die bevordering van gemeenskapsverbindings, inspirasie, kreatiwiteit, en die bevordering van pret en plesier,” het sy gesê.

Kaartjies vir die geleentheid kos R300, wat ‘n alkoholiese en nie-alkoholiese drankie, asook al die kunsbenodigdhede, insluit. Kaartjies is aanlyn beskikbaar.

Besoek hul Facebook-blad, @Brush & Beyond, vir besprekingsinligting of kontak Jade van Gensen by 083-706-9153.

Justine Fortuin

justine@mahareng.co.za