Gebruik van nuwe belastingvrye belegging

0
794

HORACE TERRY 

Die lank bespreekte belastingvrye belegging is uiteindelik hier en daar was die laaste paar weke heelwat inligting in die media beskikbaar oor hoe die belegging gaan werk en watter beleggingsopsies die verskillende finansiële instansies jou kan bied t.o.v. dié belegging. Ek het ook ‘n paar mediaberigte raakgelees waar dié tipe belegging as die ideaal vir jou kinders se studiekoste of ‘n noodfonds bemark word. Voor ek verder hierop uitbrei, sal dit goed wees om net weer na die kernkenmerke van die belastingvrye belegging te kyk. Eerstens, kan jy R30 000 per jaar tot die belegging bydra. Dié R30 000 kan eenmalig gedoen word, maandeliks, of soos jy geld deur die jaar het. Let wel, jy sal met 40% belas word op alles wat jy meer as R 30 000 tot die belegging toevoeg, in enige betrokke jaar.

Daar word ‘n leeftydlimiet van R500 000 gestel. Met ander woorde, jy kan nie in jou leeeftyd meer as R500 000 tot die belegging bydra nie. Die bedrag behoort egter ten minste jaarliks by inflasie aangepas te word. Dus, indien jy R30 000 per jaar (R2 500 per maand) tot so ‘n belegging sal bydra, gaan dit jou 16.6 jaar neem om by die R500 000-perk uit te kom en langer as jy enigiets minder as R2 500 per maand, of R30 000 per jaar sou bydra. Eintlik is dit wat jy in jou leeftyd kan bydra irrelevant, die kersie op die koek is dat alle opbrengste belastingvry is, ongeag of dit rente, dividende of kapitaalwins is. Jy wil dus maksimum moontlike opbrengs op die belegging verdien.

Hoe doen jy dit? Om dit reg te kry moet jy vir so lank moontlik bly belê in dié belegging om die voordele van saamgestelde opbrengs te kan geniet, en tweedens moet jy ‘n aansienlike beleggingsrisiko neem, want dit is ‘n langtermynbelegging. Moet ook nie op die kort termyn onttrekkings uit die belegging maak nie – jy gaan nie weer die geld kan terugplaas nie en dan verloor jy die voordele wat die belegging eintlik bedoel om jou te bied. Gegewe bogenoemde, is dit dus sinneloos om dié tipe belegging te gebruik vir ‘n noodfonds of studievoorsiening vir kinders. Dis die ideale belegging om jou eendag met jou aftrede van ‘n belastingvrye inkomste te voorsien.

* Terry is ‘n gesertifiseerde finansiële beplanner en beleggingsadviseur by Nassaux Blouster.