Lani Fouché
Jy is vir die eerste keer swanger en het geen idee wat die beste mediese opsie is om jou kind in die wêreld te bring nie.
Normale kraam, keisersnee, watergeboorte… hoe besluit ’n mens?
“In die privaatsektor is die huidige keisersnee-syfer 68% van alle bevallings omdat dit baie pasiënte se keuse is om ’n keisersnee te kry. Die vraag is natuurlik of ons as ginekoloë so ’n versoek moet toestaan” sê dr. Francois Cilliers, senior lektor en eerste spesialis by die Departement Obstetrie en Ginekologie aan die Universiteit van die Vrystaat.
Hy meen egter dat as mammas die risiko’s van ’n keisersnee verstaan, dit hulle goeie reg is om daarop te besluit.
“Die grootste voordeel daaraan om normaal te kraam is seker die bonding met die nuwe baba. Die herstel na normale kraam is vinniger as met ’n keisersnee. As die proses natuurlik plaasgevind het en dit nie ’n induksie was nie, is daar gewoonlik nie ’n kans dat die baba nog nie volgroeid was nie.” Hy sê dit is ook goedkoper om normaal te kraam as om ’n keisersnee te ondergaan, alhoewel studies toon dat indien ’n vaginale verlossing gekompliseerd raak, dít ’n duurder opsie is.
’n Keisersnee word gewoonlik deur ’n dokter voorgestel wanneer die kraam verleng is, in gevalle van fetale nood en abnormale ligging en presentasies soos byvoorbeeld ’n stuitpresentasie waar die baba se boudjies presenteer.
Wat mammas moet onthou, is dat komplikasiesyfers by keisersneegevalle hoër is as by vaginale verlossings. Dit sluit in bloeding, infeksies en trombose, veral by vroue wat vir ’n tweede of derde keer ’n keisersnee kry. Cilliers sê: “Vir iemand wat beplan om ’n hele rugbyspannetjie te hê, is dit definitief beter om normaal te kraam.”
Baie vroue is skrikkerig om normaal te kraam omdat hulle bang is dat dit hul seksuele funksie kan beïnvloed. “Daar is geen navorsing wat toon dat prolapse of uitrekking van die bekkenvloer plaasvind na ’n normale kraam nie. Baie ginekoloë propageer dit as rede waarom vroue ’n keisersnee moet kry, maar, soos ek sê, navorsing bevestig dit nie,” verduidelik Cilliers.
Cilliers erken dat hy nie ’n groot ondersteuner van watergeboortes is nie. “Ek dink dit is onveilig, juis omdat dit gewoonlik tuis plaasvind. Mense vat kanse daarmee.” Hy sê vir ’n mamma wat reeds een of twee keer suksesvol normaal gekraam het met geen komplikasies nie, is watergeboorte ’n opsie. “Maak net seker daar is ’n plan B indien dinge skeefloop,” meen Cilliers.
Wat sê die mammas?
Mariaan Moller is ’n Bloemfonteinse mamma van drie woelwater-seuntjies. Reynard is in 2006 gebore, Neil in 2008 en Ettiene in 2010. Elkeen is deur middel van ’n keisersnee in die lewe gebring.
“Met ons eerste babakind wou ons baie graag die normaalgeboorte-roete gaan. Ek was geseënd met ’n wonderlike, gesonde swangerskap wat die volle 40 weke geduur het. Babakind het geen haas in die wêreld gehad nie en ná twee induksies en 18 ure van kontraksies, het die dokter tog maar besluit om ’n keiser te doen. Die ander twee babas was beplande keisers. ”
’n Goeie herinnering: “Die wonder om jou baba se gehuil te hoor en Armand (my man) se gesigsuitdrukking toe hy sy seun sien! Dit sal altyd trane van vreugde in hierdie moederhart bring.”
’n Slegte herinnering: “Ek onthou dit soos gister – die vreesaanjaendste was om in die yskoue teater ingestoot te word. Die teatersuster wat my styf vasdruk oor ’n oorgroot 40-weke-maag vir die spinaal onthou ek ook baie goed.”
Barbara Theunissen het in Oktober verlede jaar geboorte geskenk aan ’n pragtige seuntjie, Aiden. Sy wou dit intiem en spesiaal hou – daarom het sy en haar man, Philip, besluit op ’n watergeboorte in hul huis.
“Omdat dit by die huis gebeur het, kon ons
albei ons families by die proses insluit. ’n Watergeboorte is ook ’n minder traumatiese manier om jou kind in die wêreld te bring, omdat hy veilig voel in water. Dit het ’n kalmerende effek op ma sowel as baba en dien ook as ’n pynstiller vir die ma. Ek het geweet daar is risiko’s betrokke, maar ons het saam met ons dokter en vroedvrou ’n gebeurlikheidsplan in plek gehad in geval van nood.”
’n Goeie herinnering: “Omdat my man saam met my in die water kon sit en vir Aiden self “vang”, kon pa en seun onmiddellik ’n band vorm. Dit was so spesiaal om te beleef!”
’n Slegte herinnering: “Dit was wonderlik om so baie mense deel van die ervaring te maak, maar ek kan skaars iets van daardie paar ure onthou. Gelukkig het my familielede baie foto’s en video’s geneem.”
Joanita Lloyd het in 2006 en 2008 onderskeidelik geboorte geskenk aan Wildré en Lienke. Vir haar was daar nie ’n ander opsie as om normaal te kraam nie.
“Ek is ’n baie georganiseerde persoon en dit was vir my nogal ’n ervaring om nie te weet wanneer my klein lyfie sy of haar opwagting maak nie. Adrenalien neem vir seker oor wanneer die oomblik uiteindelik aanbreek, maar gelukkig het baie navorsing oor normaal geboorte skenk gehelp om die oomblik reg te hanteer en te weet wat om te doen!”
’n Goeie herinnering: “Om die klein lyfie vir die eerste keer vas te hou oorskadu al die bangwees in die onbekende situasie – die seer, ongemak en emosie.”
’n Slegte herinnering: “Altwee my kinders is in die nag gebore, so ek was pootuit! As ek dit geweet het, het ek meer slaap voor die tyd ingekry.”