Geblinddoek aan tafel vir goeie doel

0
155
By die bekendstelling van die Dinner in the Dark was van links, Abri de Vos, Elmarie Fitzmaurie, Lynn Douw, Yolandi van der Westhuizen, Theresa Erasmus, Frans Bouwer, en Christie Hansen. FOTO: PIERCE VAN HEERDEN

Bloemfonteiners kan uitsien na die jaarlikse Dinner in the Dark wat Saterdag deur die Vereniging vir Blindes Vrystaat, in samewerking met Windmill Casino, aangebied word. Die geleentheid word vir die derde keer agtereenvolgens deur die nie-winsgewende organisasaie gehou wanneer persone wat dit bywoon getrakteer word op ‘n smaaklike driegangmaaltyd.

Die doel van Dinner in the Dark is nie net om fondse in te samel nie, maar om ook aan mense wat kan sien die geleentheid te bied om geblinddoek te word en te voel hoe dit is om in die skoene van ‘n blinde te staan. Die laaste item op die spyskaart word dan voorgesit wanneer hulle geblinddoek word.

Elke jaar is daar ook ‘n gasspreker en kunstenaar wat by die glansgeleentheid optree en vanjaar kan mense uitsien na Vernon Barnard, wat groot opslae in die eerste seisoen van The Voice South Africa in 2016 gemaak het.

Barnard is met die oogsiekte gloukoom gebore, wat hom blind gelaat het. Hy het 16 operasies ondergaan om sy sig te probeer red. Sy sang en die begeerte om ander te motiveer is sy passie, en dit is presies wat hy tydens hierdie geleentheid gaan doen.
Christie Hansen, omroeper by Radio Rosestad, gaan die aand as seremoniemeester optree.

Die aand beloof om een uit die boeke te wees en die ondersteuning van die publiek sal ‘n groot impak hê op die sukses daarvan. Die organisasie hoop om met fondse ‘n reuse-verskil te maak in die lewens van blindes en swaksiendes in die gemeenskap.

Die geleentheid vind op 15 Maart plaas koste is R3500 vir ‘n tafel van 10 mense. Belangstellendes kan gerus die Vereniging vir Blindes Vrystaat by 051-447-6934 kontak of ‘n e-pos stuur na fsblind@gmail.com.

Jeretha Oosthuizen
info@bloemfonteincourant.co.za