Gebedskamer eerste vir gemeenskap

0
152
Die nuwe gebedskamer in Heidedal wat Dinsdag bekendgestel is. Van links is Arthur Coetzee, Michelle Coetzee, Marietjie Fourie, John Page (Heide Primêr-skoolhoof) en Lukas Fourie. FOTO: PIERCE VAN HEERDEN

Gemeenskapslede sowel as leerders van die Heide Primêre Skool in Heidedal het op Dinsdagoggend byeengekom vir die bekendstelling van die nuwe gebedskamer wat by die skool ingerig is.

Die gebedskamer is vir die skool en gemeenskap geborg deur Global Harvest Ministries, wat met MLC Ministries saamgewerk het. Marietjie Fourie van MLC Ministries, wat Pretoria as basis het, het aan Bloemfontein Courant gesê dat Arthur en Michelle Coetzee die voorbereidingswerk vir die gebedskamer gedoen het.

“Hulle is betrokke in die opleiding van die intersessors, wat deel van die vasgestelde program sal wees.”

Sy het verder verduidelik dat verskeie pastore van verskillende kerke ook betrokke sal wees, en hier vir die gemeenskap van Heidedal gaan intree in gebed.
Skoolkinders van die hele omgewing is baie welkom om hier te kom bid.

Die gebedskamer is oop vir lede van die gemeenskap wat ‘n ruimte en stil plek benodig om te bid

Op die vraag waarom ‘n gebedskamer in hierdie omgewing, het sy geantwoord dat die gemeenskap ‘n veilige plek wil hê waar mense kan bid en waar hul kinders beskerm is. Wanneer die moeders en vaders van die gemeenskap bid, kan die lotsbestemming van hierdie kinders verander.

“Hierdie is die 17de gebedskamer wat ons vir mense van die gemeenskap borg om hulle in staat te stel om te kom en te bid vir hul eie lewens en dié van mekaar en ander. Dit is ‘n veilige ruimte waar mens kan inkom vir stiltetyd,” het Fourie gesê.

Haar man, Lucas Fourie, het verduidelik dat sy vrou die geestelike uitvoerende hoof van hierdie gebedskamers is en dat sy uiters hard werk om te verseker dat mense van hierdie gemeenskappe iewers veilig het om te gaan bid.

Die gebedskamer is oop vir enige lid van die Bloemfonteinse gemeenskap wat graag ‘n stil plekkie wil hê om te bid. Die gebedskamer is op die perseel van Heide in Heidedal.

SAZLY HARTZENBERG
sazly@centralmediagroup.co.za