Gallery: Verjaardag agter grendel op unieke wyse gevier

0
711
Andoline Vögel

Een van die vele oorspronklike idees waarmee mense in grendeltyd vorendag kom, was die blink gedagte van suster Andoline Vögel van die Noorderbloem-aftreeoord op haar 45ste verjaardag.

Vögel wou baie graag hierdie jaar haar verjaardag gevier het deur saam met vriende koek en tee te geniet, maar toe die inperking aangekondig word, het sy aan haar man gesê dat sy nou aan iets anders sal moet dink. Sy wou graag iets spesiaals doen vir haar verjaardag. “Ek wou nie hê dat dit geld moes kos nie en steeds by die reëls van die inperking hou. Ek wou ook hê mense moet fokus op die positiewe.”

Dit is toe dat sy besluit het om haar verjaardaguitnodiging per WhatsApp te stuur aan almal wat sy ken. Sy het mense op haar kontaklys genooi om tussen 10:00 en 12:00 op Sondag 12 April ‘n “lockdown- koppie tee” in die gemak van hul eie huise te geniet deur hul mooiste teekoppies uit te haal, hul gunsteling-aanhaling of -Bybelteks neer te skryf en vir haar ‘n foto daarvan te stuur.

Vögel het meer as 100 foto’s van regoor die wêreld gekry. “Mense het regtig moeite gedoen. Van hulle het kolwyntjies en koek en kerse op hul foto’s gehad saam met hul gelukwense.” Sy was baie verras aangesien sy nie verwag het dat sy só besig sou wees op haar verjaardag met al die foto’s en mooi wense van almal nie.

“Dit was regtig vir my so ‘n spesiale dag, iets wat ek nooit sal vergeet nie,” sê sy. Sy het toe ‘n briefie per WhatsApp uitgestuur met haar en haar man se koppies tee om dankie te sê aan haar “gaste” vir hul “teenwoordigheid”.

Sazly Hartzenberg

sazly@centralmediagroup.co.za