Gaan jy ook bekruip word?

0
204
Foto: GOBankingRates

Inkomstebelastingbetalers is baie beïndruk met Tito Mboweni. Die man het immers nie inkomstebelasting verhoog in sy onlangse begrotingsrede nie.

Dan is die belastingkortings ook ‘n klein bietjie verhoog, net vir die kersie op die koek. Dit blyk dus asof jy dieselfde belasting as verlede jaar gaan betaal, maar gegewe die feit dat die belastingkortings effens verhoog is, gaan jy inteendeel minder belasting as verlede jaar betaal.

Persone onder 65 sal R153 per jaar meer in die sak hê, diegene tussen 65 en 74 sal R234 per jaar meer in die sak hê, en ouer mense 75 en ouer sal ‘n ekstra R261 per jaar hê om te spandeer.

Die belastinggaarder sal egter nooit verloor nie. Alhoewel dit lyk of jy ‘n beter “tax deal” gekry het, is dit nie die geval vir baie belastingbetalers nie. Sien, ou Tito het nooit die belastingskale vir inflasie aangepas nie en die skale lyk nog dieselfde as vir die vorige belastingjaar. Hy maak nou staat op die verskynsel van “bracket creep” om paar rand se ekstra belasting uit jou te kry. Indien jy een van die persone is wat naby die rand van enige van bogenoemde skale lê, is jy in gevaar.

Sodra jy jou salarisverhoging in 2019 gaan kry (al is dit net ‘n inflasieverwante verhoging), kan jy oor die rand, na die volgende belastingskaal, gedruk word. Dit beteken dus dat jy meer belasting gaan moet betaal, en dat jy in reële terme (na inflasie), eintlik maar armer geword het.

Deur net bogenoemde inkomstebelastingskaal onveranderd te gelaat het, word daar verwag dat die Ontvanger van Inkomste ‘n ekstra R13 miljard in inkomstebelasting sal vorder. Wat staan jou te doen?

Ongelukkig is jou belange as ‘n getroue belastingbetaler nie vir die Ontvanger van Inkomste belangrik nie. Jy sal dus self jou finansies beter moet beplan om minder belasting te betaal. Indien jy ‘n gewone salaristrekker is, het jy egter nie veel wettige opsies om belasting te vermy nie. Gaan sit dus saam jou finansiële beplanner en werk (byvoorbeeld) uit hoeveel jy op ‘n uittree-annuïteit moet spandeer dat dié se premies wat belastingaftrekbaar is, jou weer in ‘n laer belastingskaal sal bring. Indien jy nie gaan beplan nie, gaan die Ontvanger van Inkomste ‘n groot deel van jou verhoging insluk. – Horace Terry
horace@nassaux.com