Gaan die Grieke en Chinese jou belegging raak?

0
740

HORACE TERRY

In 2011 het die skuldprobleme van Europese lande bekend geword en het ons geleer oor terme soos PIGS-lande (Portugal, Italië, Griekeland en Spanje). Sedertdien het daar nie eintlik veel verander nie, behalwe dat Griekeland se geld elke dag al minder en minder geword het tot nou waar hulle eintlik maar bankrot is. Dit is egter verwag. Dinge lyk nie goed vir Griekeland nie. Hoe gaan hulle uit die gemors kom?

Aan die ander kant van die wêreld het ons gesien hoe China se Hang Seng-aandelebeurs pakslae kry en hoe beleggers uit Chinese aandele uitverkoop. Weer eens, nes Griekeland se bankrotskap verwag is, moes daar ‘n regstelling op China se aandelebeurs kom. China se aandeelpryse het sterk gegroei vir ‘n geruime tyd al en ons almal weet sulke groei is nie volhoubaar nie. ‘n Regstelling was dus op die kaarte. Die afkoop van Chinese aandele is verder aangevuur deur die onsekerhede wat deur die Griekse skuldkrisis veroorsaak is. Finansiële markte hou nie van onsekerheid nie en oorreageer in onsekere tye. Daar word dus berge van molshope gemaak… wat hulself later weer sal regstel.

Ons sien tans weer hoe onsekerhede in Griekeland en China finansiële markte laat oorreageer. Kyk maar na ons plaaslike beurs, wat met die skryf van dié rubriek reeds ‘n regstelling van rondom 10% beleef het. Is dit alles rede genoeg om groot te skrik en eerder ‘n veilige hawe vir jou beleggingskapitaal te gaan soek? Nee, bly waar jy is. As ek en jy al van 2011 af geweet het dat Griekeland in die moeilikheid is en dat China uitermatige groei beleef het die laaste paar jaar, kan ek jou belowe dat finansiële markte (wat deurlopend vooruit kyk), lankal ook gesien het hier kom ‘n ding.

Gevolglik het aandeelpryse reeds ‘n Griekse skuldkrisis en ‘n Chinese regstelling ingeprys. Wat ons dus nou sien is nie ‘n ineenstorting van markte nie, maar eerder emosies wat op hol gaan. Soos vroeër genoem, word daar nou berge uit molshope gemaak. Indien jy in die regte tipe beleggingsfondse belê is, sou die fondsbestuurder van die betrokke fondse reeds vir jou van die winskopies wat tans op aandelebeurse te vinde is, begin opkoop en en sal jy in die maande wat kom sien hoe die waarde daarvan ontsluit word. Dis dalk ‘n goeie tyd om van die geld wat jy in geldmark het bietjie markblootstelling te gee.