Fynproewers byeen met sjef Mynhardt Joubert

0
286
Sjef Mynhardt Joubert by een van sy kosskeppings.

Lede van die publiek word hartlik uitgenooi om saam met sjef Mynhardt Joubert te kom proe, ruik, en ervaar wat kosmaak is.

Die bekende sjef Mynhardt sal te sien wees by die Bloemfontein Fynproewersgilde-byeenkoms wat plaasvind by Koekela Huiskafee en gaste kan uitsien ‘n oggend van van geur, kleur en lekker gesels.

Sjef Mynhardt is die toesighouer van Mynhardt se Cathedral Cellar Kitchen, Paarl, ‘n gewilde en eksklusiewe restaurant in die Kaapse wynlande.

Mynhardt gaan nie net ses heerlike resepte demonstreer nie, hy bring ook heerlike Laborie-wyne saam om die geleentheid sommer ook in ‘n wynproe te verander. Volgens voorsitter van die gilde, MartMarié du Toit, is hulle opgewonde dat hierdie bekende sjef ‘n kookdemonstrasie by hul eerste Fynproewersvergadering van 2021 gaan gee.

“As gevolg van die Covid19-pandemie is ons laaste vergadering in Februarie 2020 gehou. Ons is dus uitgehonger vir ’n oggend van proehappies en samesyn.” Mynhardt gaan ‘n herfstafel as tema vir sy demonstrasie gebruik. “Gaste sal elke resep by die huis wil gaan probeer, veral ná die heerlike proesessie,” sê Du Toit.

Mynhardt, ‘n Vrystater, het bekendheid verwerf na hy en sy mede-sjef, Tiaan Langenegger, die eerste Kokkedoorkompetisie gewen het.

Du Toit vertel aan Bloemfontein Courant dat daar ná vele navrae besluit is om hierdie vergadering oop te maak vir die publiek. “Gaste kan uitsien na ’n heerlike oggend van proe en kuier. Elkeen sal ’n geskenkpak, gevul met heerlike happies, bestanddele en ander verrassings, kan huis toe neem,” vertel Du Toit.

Die demonstrasie vind plaas op 4 Mei 2021 en begin om 09:30. Kaartjies kan teen R180 elk bespreek word by Mart-Marié du Toit (061 780 3803) of gekoop word by Koekela Huiskafee, Reidstraat 17, Westdene, Bloemfontein.

Pierce van Heerden

pierce@mahareng.co.za