FWA se 10 jaar-mylpaal

0
376
Die FWA-span in ligter luim

Die 10de jaar sedert die stigting van die Fichardtparkwoonbuurtassosiasie (FWA) op 2 Junie was ’n besonderse mylpaal in die geskiedenis van hierdie bekende woonbuurtinstansie. Die saadjie is oorspronklik geplant deur die stigter, Johan Snyman.

“Inwoners het aanvanklik voor die stigting van die vereniging moeilik ingekoop in die idee, veral toe die FWA-komitee half agter die gordyn gewerk het met die munisipaliteit om baie sake in plek te kry. Die komitee het besef dat mense veranderinge wil sien en nie net hoor van verwikkelinge nie,” vertel Jacques Meiring, hoofbestuurder van die FWA.

Hy sê dat veiligheid van meet af aan as voorkeur gestel is. “’n Bestuurder is aangestel om met veiligheidsinisiatiewe te begin. Met ’n misdaadsyfer van gemiddeld 40 sake per maand, soos aangedui in die SAPD-bulletin, is ’n fyn beplande operasionele plan in plek gestel in 2014. “’n Ruk daarna is nog sekuriteitsbestuurders aangestel en misdaaddata is aangeteken om brandpunte te begin identifiseer.

Jacques Meiring

Die groeiende radionetwerk het ’n groot bydrae gelewer om misdaad te bekamp. Vele mense se lewens is al gered vanweë die vinnige aanmelding van sake,” sê Meiring. Iets wat die FWA besonders maak, is dat hulle ook in die behoefte van reflekterende straatnommers voorsien sodat huise vinniger opgespoor kan word deur enige nooddiens. Meiring vertel verder dat die FWA ook begin het met tuindienste, aangesien die woonbuurt netjies gehou moes word.

Dié inisiatief moes vinnig oorskakel na die verkryging van ’n diensverskaff er omdat al die komiteelede werkende mense is en nie die probleme kon hanteer wat telkens opgeduik het nie. Twee diensverskaff ers vervul tans hierdie rol om die buurt in stand te hou en onwettige rommelstorting op gereelde basis te keer.

Die FWA tree ook in ’n toesighoudende hoedanigheid op ten einde infrastruktuurgebreke aan te meld en by die munisipaliteit op te volg. Volgens Meiring was die derde doelwit om ’n omgeebuurt te skep. Die FICH-Net-radionetwerk het ’n “buddy”-stelsel ontwikkel wat omgee bevorder. Omgeeinisiatiewe het al hoe meer begin ontwikkel. Fichardtpark is as ’n bewarea geregistreer en daar is ook met herwinning begin.

In hierdie stadium word herwinbare produkte elke tweede en laaste Saterdag van die maand deur ’n diensverskaff er versamel en groot sukses word met hierdie projek behaal. E-afval word ook ingesamel.

Die FWA is ’n gevestigde organisasie wat omgee vir inwoners in Fichardtpark. Volgens Meiring het Johan Snyman op vele geleenthede beklemtoon dat Fichardtpark eintlik soos ’n klein dorpie is.

“Hier is ’n verskeidenheid om van te kies: skole, kerke, winkelsentrums met talle bedryfslyne, ’n hospitaal, parke vir ontspanning en hope talent en vaardighede.”

Heidre Malgas

heidre@mahareng.co.za