FWA hou prettige Saterdag-uitstappie

0
1489

Sportentoesiaste, of diegene wat vir die lekkerte stap, moet hulself gereed maak vir vanjaar se Fichardtpark Woonbuurt Assosiasie (FWA) se tweede pretstap, wat op Saterdag 16 Junie plaasvind.
Die FWA nooi die publiek om die oggend saam met familie en vriende te kom geniet in ‘n veilige, ontspanne omgewing en deel te neem aan ‘n 3 km- of 5 km-pretstap op Brandkop. Stappers is welkom om hul honde saam te bring, maar dié viervoetige vriende moet aan ‘n leiband wees en moet na omgesien word.
Sekuriteit, noodhulpdienste, toiletgeriewe asook stalletjies waar iets te koop sal wees nadat deelnemers die prestap voltooi het, sal beskikbaar wees. Foto’s sal geneem word. Roetes sal met sorg beplan word, met rigtingwysers langs die pad vir diegene wat bang is hul verdwaal.
As deel van die FWA se leuse, Sorgsaam, sal daar ook herwinning gedoen word van leë waterbottels.
Belangstellendes as ook persone wat daar wil uitstal, kan Melinda weeksdae tussen 08:00 en 12:00 kontak by 073-945-4987 of ‘n e-pos kan gestuur word na fwafna@gmail.com voor of op 6 Junie. Koste per stalletjie is R50 vir die dag. Borge kan hul produkte gratis uitstal.
Registrasie vind om 08:30 plaas en koste beloop R20 per persoon en R15 vir kinders onder die ouderdom van 12. Die inskrywingsgeld sluit ‘n gratis worsbroodjie en bottel water in.

JERETHA OOSTHUIZEN
jeretha@mahareng.co.za