Francios du Toit bied Valentynsimfonie aan

0
559
Musiekliefhebbers kan uitsien na pianis Francois du Toit se optrede saam met die VSSO.

Pianis Francois du Toit gaan die Rosestad herbesoek, net betyds vir ‘n Valentynsbederf. Du Toit sal die hoofkunstenaar wees by die Vrystaat-simfonieorkes (VSSO) se eerste simfoniekonsert van die jaar wat op 14 Februarie deur Pacofs aangebied word in die Sand du Plessis-teater, met Alexander Fokkens aan die stuur van die orkes.

“Dit is altyd wonderlik om in Bloemfontein op te tree en ek het die vorige kere hier baie geniet. Ek glo dat dit vir my nog meer spesiaal gaan wees hierdie keer aangesien ons in die Sand du Plessis-teater gaan optree,” het Du Toit gesê.

Bekend as een van die land se beste pianiste, kamermusikante en musiekopvoeder, het Du Toit as hoogs erkende konsertsolis reeds saam met al die orkeste in Suid-Afrika opgetree sedert hy 15 jaar oud was. Sy laaste optrede saam met die VSSO was in September 2016.

“Dit is altyd vir my wonderlik om saam met ander musici te werk. Ek geniet die kameradie, veral wanneer mens met ‘n orkes werk. Wat ek in die verlede ervaar het met die VVSO-lede, is dat hulle altyd baie toegewyd en entoesiasties is. Ek hou veral daarvan om met hulle saam te werk omdat dit vir almal ‘n ontspanne en inspirerende proses is.”

Die program waarna uitgesien word, sluit in Rimsky-Korsakov se mistieke Scheherazade, gebaseer op 1001 Nights, ook bekend as The Arabian Nights. Dit sluit die verhale van Aladdin, Ali Baba, Sinbad the Sailor en baie ander, wat so te sê deel van Westerse volksoorleweringe geword het in. Die simfoniemusiek met sy oosterse tema wat ‘n atmosfeer van avontuur skep, Elgar se passievolle Salut d’Amour, saam met die boeiende Piano Concerto deur Grieg, maak alles deel van die program uit.

Die konsert begin om19:30 en kaartjies is beskikbaar by Pacofs se besprekingskantoor, tel. 051-447-7772. Toegangspryse is: Volwassenes – R100; Kinders en skoliere 3 tot 18 jaar – R40. Vir meer inligting kan die VSSO geskakel word by 051-401-2342, of besoek hul Facebook-blad. – Seithati Semenokane
seithati@centralmediagroup.co.za