Bloemfontein – Marc Fourie en Francois Annandale (albei van die Hoërskool Grey-kollege) het onlangs by die Suid-Afrikaanse MTB-bergfietsry-marathonkampioenskap die Rosestad se naam hoog gehou deur in hulle onderskeidelike afdelings op die podium te verskyn.
Die byeenkoms is in Pietermaritzburg beslis en die roete wat ryers moes baasraak was ‘n riller.
Die 17-jarige Fourie, een van Suid-Afrika se voorste bergfietryers (junior afdeling), het in die halfmarathonwedren (50 km) vir junior mans tweede geëindig in ‘n haastige tyd van 2:38:53.
Hy is egter deur sy aartsvyand, Julian Jessop (KwaZulu-Natal), geklop. Jessop was genadeloos en het in ‘n skitterende 2:31:37 oor die eindstreep gejaag.
Harrie Malan (WP) kon egter nie vir Fourie van ‘n silwermedalje ontneem nie en moes met die derde plek (2:42:50) tevrede wees. Annandale, wat met rasse skrede verbeter, het in die wedren vir jeugseuns die bronsmedalje gebuit.
Hy het 2:59:05 vir die 50 km aangeteken, maar moes sy speke laat sing om die vierde ryer, Brandon van der Berg (Noordwes), van die podium af te hou. Jessop se jonger broer, Thomas (KwaZulu-Natal), het in Annandale se afdeling geseëvier en die res van sy teenstaanders goed op hulle herrie gegee. Hy het in 2:41:37 geëindig.
Sy tyd was so goed dat hom die derde plek in die junior afdeling sou besorg het. Liam de Klerk (Gauteng) was tweede in die jeugseuns-wedren. Nóg ‘n Grey-man, Rinus Maarsingh (3:07:39), was sewende in die einste jeugafdeling. Sy pa, Dirk Maarsingh, het in die veteranemans B-afdelingwedren ook sewende klaargemaak.