Fourie beste junior fietsryer

0
1026

RUFUS BOTHA 

Marc Fourie is verlede week by Cyclotech-fietsryklub se jaarlikse prysuitdeling aangewys as dié klub se Junior Sportman van die Jaar. 

Dit kon nie ‘n moeilike keuse gewees het nie, want Fourie het vanjaar nie slegs uitgeblink in sy gunsteling-wedrenne (bergfiets) nie, maar ook vroeër vanjaar by die gewilde Discovery 100km-padfietswedren in Bloemfontein met eer uit die stryd getree.

Fourie het by dié wedren naelskraap ‘n stokkie gesteek voor ‘n algehele oorheersing van die pad- en baanfietsryers van die Aerocare Courant-fietsryspan. Hy was boonop die eerste leerling van Grey-kollege (wat die byeenkoms aangebied het) wat die 100km-wedren kon wen. Hy moes egter hard werk om junior, Eckhard Binding (Courant), naelskraap te klop.

By die tweede jaarlikse PPA Cycle Tour in Bloemfontein, het Fourie geen keer gehad in die bergfietsafdeling nie en het die 75km met gemak gewen. Hy was ook eerste in die Gerhard van Heerden-bergfietswedren in Woodland Hills en het ‘n Top-10-plek in die nasionale bergfietsreeks in die elite-mansafdeling verower. Hy was die jongste elite-jaer in dié reeks. Fourie het hom weer tot padfietsry gewend en die Autoquip 100 km-wedren sy eie gemaak.

Arnou Oberholzer is aangewys as Cyclotech se Senior Sportman van die Jaar. Hy was onder meer derde in die Vrystaat MTB-marathonreeks (tweede in sy kategorie) en het saam met sy spanmaat die 92ste plek uit 600 spanne ingeneem by die wêreldbekende Cape Epic. 

Maricel Bekker het die eerbewys ontvang as Senior Sportvrou van die Jaar. Sy het ‘n puik jaar beleef en die vroue-afdeling van die Gerhard van Heerden-bergfietswedren in Woodland Hills gewen. Sy was ook eerste in die Ashbourton- (Clarence), Ficksburg Imperani- en Eden Classic-wedren. 

Jayme-Sue Vermaas (Hoër Meisieskool Oranje) is aangewys as die Junior Sportvrou van die Jaar. Buiten vir ‘n lang lys van puik multisportvertonings, waarvan fietsry deel uitmaak, het Vermaas gewys dat sy haar staal kan toon as dit by slegs fietsry kom. Sy is tussen al haar veelkampverpligtinge as Vrystaat-bergfietsrykampioen gekroon.