GEORG VAN ECK
As die Vrystaat XV, wat Saterdag in die Vrystaat-stadion in Bloemfontein 17-13 teen die OP Kings in sy Vodacombeker-rugbywedstryd vasgeval het ’n aanduiding van die Vrystaat Cheetahs se reserwekrag is, is hulle in die moeilikheid. Die gebrek aan ondernemende rugby, samespel, planmatigheid en swak spankeuses is dalk die grootste redes vir die flou vertoning van die Vrystaters eerder as die individuele spel van die spelers.
Om deesdae ’n wedstryd sonder ’n baljagter wat hom by die breekpunte laat geld aan te durf, is haas ondenkbaar, maar die Vrystaters het dit gedoen. Van die lostrio is dit net Oupa Mohaje, wat ook as lynstaanspringer ingespan is, wat met eer uit die stryd getree het. Die ander twee losvoorspelers, Devon Raubenheimer en Tertius Daniller, het wel goeie dinge gedoen, maar as lostrio het hulle nooit aan die gang gekom nie omdat nie een ’n baljagter is nie.
Ook in die lynstane het die plaasvervanger Marnus Briedenhann stukke beter as die beginslotte, Andries Ferreira en Neil Claassen, gespeel, terwyl André van der Walt nie na die beste derdebeste skrumskakel in die Vrystaat gelyk het nie. Sou Kevin Luiters, Renier Botha of Inus Kritzinger nie ’n beter keuse gewees het nie? Gelukkig het die twee stutte, Caylib Oosthuizen en Rossouw de Klerk, ’n barshou gespeel, terwyl Ludwig Erasmus ook sy merk op heelagter gemaak het.
Verskeie plaasvervangers het beter as die spelers in die beginspan gevaar en dit is ’n aanduiding dat daar met die spankeuses misgetas is.
Punte: OP Kings 17 (8). Drie: Wayne Stevens. Straf: Scott van Breda (4). Vrystaat XV 13 (5). Drieë: Ludwig Erasmus, Oupa Mohoje. Straf: Tewis de Bruyn.
Ander uitslae: KZN Haaie 26 SWD Arende 22; Griffons 30 Goue Leeus 19; Pampas XV 65 Boland 23; WP 33 Grens 13; Luiperds 33 BlouBulle 26; Pumas 47 Griekwas 31; Valke 69 Limpopo XV 7.