Flip Steyn nog lank nie koud op rolbalbaan

0
809

Een van die bekendste rolbalspelers in Bloemfontein, Flip Steyn van Orangia-rolbalklub, het op die perke van Orangia met die Suid-Vrystaatse enkelspeltitel weggestap. Die 85-jarige Flip Steyn het sy kennis van sy tuisbaan en ervaring gebruik om oorwinnings in die halfeindronde en eindstryd te behaal. Hy het eers met Chris Bithrey van Munisipaliteit afgereken om na die eindstryd deur te dring.

In die ander halfeindstryd het Aubrey Veldtmann van Bethulie met Sol Lubbe van Munisipaliteit afgereken om teen Steyn te staan te kom. Die eindstryd was ‘n taai stryd maar Steyn het uiteindelik 21-17 geseëvier om die titel in te palm. In die senior enkelspelkompetisie vir vroue het die spelers mekaar ook goed opgekeil. In die eerste halfeindstryd het Elma Pretorius van Orangia met haar klubmaat Ris Kriger afgereken, terwyl Annie Potgieter van Aliwal-Noord vir Suzanne Brand van Oud-studente in die ander halfeindstryd geklop het.

In die eindstryd het dié twee spelers ook goeie spel opgedis voordat Potgieter die baie gelykopstryd teen Pretorius gewen het om die titel terug te neem na Aliwal-Noord.