Fitz-Gerald en sy ysterperd onstuitbaar by Tempe

0
989
Kerim Fitz-Gerald vlieg hier deur die lug op die Suid-Afrikaanse veldfietswedren-kampioenskap wat die naweek in Bloemfontein beslis is. Fitz-Gerald en sy ysterperd was onkeerbaar in die senior afdelings en is sodoende gekroon as nasionale wenner in albei afdelings. FOTO: MORGAN PIEK

Die enjins het behoorlik gebrul toe Suid-Afrika se voorste veldfietsren(motocross)-jaers mekaar die naweek die stryd aangesê het in verskeie senior en junior afdelings op die nasionale kampioenskap wat in Bloemfontein aangebied is.

Onder die senior manne was Gauteng se Kerim Fitz-Gerald onstuitbaar in die MX1- en MX2-afdeling. Fitz-Gerald was deurgaans in wilde jaagtogte betrokke met Anthony Raynard, Tristan Purdon en Bloemfontein se eie Johan Vogelsang.

Fitz-Gerald se puik wegspring en die deurgaanse druk wat hy op die manne geplaas het, het hom die voorsprong gegee. Hy is egter in die MX2-afdeling lelik skrik op die lyf gejaag toe die einste Vogelsang van meet af aan die voortou geneem het terwyl Fitz-Gerald en Purdon sy stof moes sluk.

Asof uit die niet uit, het Purdon met puik jaagkuns die voortou by Vogelsang oorgeneem en dit het geblyk dat Fitz-Gerald hier pak sou kry. Laasgenoemde het egter sy kans afgewag en by een van die laaste draaie vir hom beweegruimte bewerkstellig en dié uitdun ook gewen.

Fitz-Gerald is uiteindelik in die MX1- én MX2-afdeling as Suid-Afrikaanse kampioen gekroon.

Sacha Naudé en Anthony Raynard was tweede en derde. In die MX2-afdeling het Purdon algeheel tweede viool gespeel met Raynard dié keer derde.

Fitz-Gerald het na die byeenkoms aan Motocross SA (www.mxsa.co.za) gesê: “Ek het nie goed gevoel tydens die oefenrondes nie en die baan het bietjie swaar gevoel en dit alleen het my verbaas dat ek die voorste ry met die wegspring losgejaag het. Ek wou egter daar wees en was opgewonde om in Bloemfontein te wees.”

Hy het bygevoeg dat hy goed weggespring het in die MX1-wedrenne en dat hy en Raynard gereeld die voortou by mekaar afgeneem het, maar dat hy vinniger deur die draaie was. Hy het verder gesê: “In die MX2-wedrenne het ek twee goeie wegspringe beleef en die wedrenne van meet af aan beheer. Ek is baie tevrede met my vertonings gedurende die kampioenskap,” het hy afgesluit.

Die ander wenners is:

MX3: Ian Topliss. Hoërskoolafdeling: Slade Smith. Vroue: Brittany Cuthbert. Senior ondersteuningsafdeling: Bevan Christie. Juniors 85cc: Jonathan Mini. Pro Mini-afdeling: Cameron Durow. 65cc: Hayden Tulley. 50cc: Neil van der Vyver. – RUFUS BOTHA