Filmit-kompetisie vat hande met Suidooster

0
413
Dean Smith wat die rol van Wade Ferreira vertolk.

Die Filmit-rolprentkompetisie vir hoërskoolleerders wat in Mei hierdie jaar bekend gestel is, vat nou hande met die span van die gewilde kykNet-sepie Suidooster.

Een van Suidooster se hoofskrywers, Marcel Spaumer, sal deel wees van die beoordelaarspaneel vir dié kompetisie. Volgens ‘n persvrystelling deur Paul Roos Gimnasium, wat die komptetisie aanbied, sal die akteurs van Suidooster hul ervarings, kennis en vaardighede met die 20 deelnemende skole deel. “Interaktiewe aanlynmentorskapsessies sal aangebied word deur vyf Suidooster-akteurs,” lui die verklaring.

Drie van hierdie akteurs is Dean Smith (wat die rol van Wade Ferreira vertolk), Marco Spaumer (Tim du Plooy), en Esther von Waltsleben (Elana Naudé). Die kompetisie vir hoërskoolleerders regoor Suid-Afrika en Namibië is ‘n geleentheid vir leerders om hul eie kortrolprent te skryf en aan te bied terwyl hulle terselfdertyd ‘n kans staan om pryse te wen.

Skole is oorweldig deur die ondersteuning van die rolprentbedryf. Weens dié ondersteuning sal die wenners van die kategorieë Beste akteur/ Beste aktrise en Beste ondersteunende akteur/ Beste ondersteunende aktrise ‘n persoonlike aanlynsessie met een van die volgende akteurs wen: Neil Sandilands (Sweet Tooth), Erica Wessels (I am all girls), Jarrid Geduld (Ellen Pakkies en Four Corners), Deon Lotz (I am all girls) en meer (wat in die komende weke bekend gemaak sal word).

Volgens die verklaring is Paul Roos Gimnasium opgewonde om aan te kondig dat die leerder wat die beste rolprentplakkaat ontwerp, ‘n aanlynkortkursus in grafiese ontwerp sal wen van die Red and Yellow Creative School of Business. “Nosipho Dumisa-Ngoasheng (skrywer en regisseur van die rolprent Nommer 37) sal haar kennis en ervaring deel met die wenner van die Beste regisseur-kategorie.

Fahema Hendricks (regisseur van fotografie), Eva du Preez (redigeerder), Braam du Toit (komponis/filmmusiek), Lloyd O’Connor (klankingenieur), Michael Botha (The Workroom, klank post-produksie) en Kobus Verhoef (Gravitron, spesiale effekte en fabrikasies) het hulself bereid verklaar om hul kennis en tyd met deelnemende leerders te deel.”

Paul Roos Gimnasium sê hulle sien uit na ‘n diverse versameling aansoeke en is gereed om te kyk watter stories die jeug van Suid-Afrika en Namibië gaan vertel. Vir meer inligting, stuur ‘n epos aan filmit@paulroos.co.za.

Sazly Hartzenberg

sazly@mahareng.co.za