Fietsers ‘klim Everest’ in Bloem

0
301
Charl Coetsee en Ockert Struwig

Gefokus op een doelwit, het twee dapper Bloemfonteiners, Ockert Struwig en Charl Coetsee, onlangs in Bloemfontein “Berg Everest uitgery”.

Struwig en Coetsee, wat albei vir Enduroplanet werk en vir die Enduroplanet-klub fietsry, het 214 km, 8947 m, die ekwivalente hoogte van Berg Everest, in 16 uur 34 minute teen die Radar-kop, oorkant Montebello Estate buite Bloemfontein uitgery.

Die konsep van “Everesting” bestaan al geruime tyd in die fietsrygemeenskap en Struwig wou reeds vir die afgelope twee jaar iets soortgelyks probeer. Covid-19 het dit die ideale tyd gemaak om dit te doen. Hy het Coetsee oortuig om dit saam met hom aan te pak en die twee het op ‘n datum besluit om die opwindende tog aan te pak.

Volgens Struwig was sy liggaam seer, maar hy kon nog ‘n paar rondtes gedoen het. “Ek het gevoel dat die hele ervaring bo alles vir my ‘n geestelike uitdaging was.”

Coetsee vertel dat dit fisiek moeilik was en dat hy nie kon wakker bly nie. Vir hom was dit ook die grootste psigiese uitdaging ooit. “Om dieselfde heuwel op en af, oor en oor, te ry, was die moeilikste deel. Veral om te weet dat die volgende een moeiliker gaan wees as die een waarmee jy nou besig is.”

Tydens die uitdaging het talle mense vir ‘n rukkie saam met hulle gery, of net kom kyk om hulle te motiveer. “Ons het baie reaksie op sosiale media gekry, en almal se kommentaar en aanmoediging het ons deurentyd gemotiveer.”

Coetsee het verduidelik hoedat hulle, toe hulle uiteindelik klaar was, soos ‘ysters’ gevoel het. “Op pad huis toe het die werklikheid van wat ons nou net gedoen het ingesink, veral toe die moegheid ons tref,” vertel hy. Volgens Struwig was die verligting groot toe hy besef hulle is klaar. Vir hom was dit beslis ‘n baie groot prestasie.

Die twee fietsryers het nie die uitdaging aangepak om die eerstes in Bloemfontein te wees wat dit gedoen het nie, maar eerder om “te sien hoe ver ons onsself kan druk”.

Sazly Hartzenberg

sazly@centralmediagroup.co.za