Fichardtpark seëvier by Bfn-beker-atletiek

0
544
Janco Molentse (Fichardtpark) het Vrydag sy veelsydigheid deeglik onderstreep toe hy die 100 m- en hoogspringnommers gewen het tydens die eerste Bloemfonteinbeker- uitnodigingsatletiekbyeenkoms wat op die Mangaung-stadion beslis is. FOTO: DIRKIE GROENEWALD

Die Hoërskool Fichardtpark het Vrydag amok gemaak by die eerste Bloemfonteinbeker-uitnodigingsatletiekbyeenkoms wat op die Mangaung-stadion beslis is. Die byeenkoms, wat beloof om ‘n jaarlikse instelling te word, is deur Fichardtpark, in samewerking met Atletiek Vrystaat gereël en beloof om een van die gewildste atletiekbyeenkomste in die Vrystaat te word.
Die puntestelsel wat toegepas is, het agt punte vir ‘n wenner van ‘n nommer vir sy of haar skool beteken en afgeneem tot een punt vir ‘n agste plek.
Fichardtpark, wat duidelik gewys het dat hulle aan hul diepte in atletiek werk, het die afdeling vir meisies met 343 punte gewen. Hulle is gevolg deur Jim Fouché (318 punte) en Sentraal met 302 punte.
In die afdeling vir seuns het Fichardtpark weer die septer geswaai en eerste geëindig met 362 punte terwyl Sentraal met die tweede plek (302 punte) tevrede moes wees. Die Hoërskool Grey-kollege en Jim Fouché het die derde plek gedeel met 261 punte.
Wat die gesamentlike spankompetisie (seuns en meisies) betref, was daar weereens geen keer aan Fichardtpark nie en is hulle as kampioenspan gekroon met 705 punte. Dit is meer as 100 punte as die naasbestes, Sentraal (604 punte) met Jim Fouché derde met 579 punte.
Wat nóg meer kleur aan die byeenkoms verleen het, is dat daar ook ‘n trofee vir die skool, toeskouers ingesluit, met die beste gees by die byeenkoms was. Fichardtpark het hier ook die oorhand gehad en 278 punte versamel. Jim Fouché was egter kort op hulle hakke met 266 punte en die Hoërskool Louis Botha derde met 204 punte.
Heelparty skitterende individuele vertonings is opgedis.
Onthou gerus die naam Phelalani Gasa (Louis Botha). Hierdie blits het in die 200 m vir seuns 19 jaar ‘n blitsige wentyd en wegholoorwinning in 20,95 aangeteken en behoort hom deeglik te laat geld by die SA junior kampioenskap later vanjaar.
Fichardtpark se eie Elaine Pretorius het in die afdeling vir meisies 16 jaar die hamergooi met ‘n reuse-afstand van 53,33 m gewen. Dié vertoning gaan haar teenstanders op nasionale vlak beslis slapelose nagte besorg.
Die veelsydige Janco Molentse (Fichardtpark) het goeie punte vir sy skool besorg deur die 100 m vir seuns 14 jaar in 11,92 te wen en boonop die hoogspringnommer sy eie gemaak met ‘n puik hoogte van 1,77 m.
Die blits van Grey-kollege, Lucky Molenyane, het oudergewoonte nie teleurgestel nie en met ‘n puik naelloop-tweekuns in die afdeling vir seuns 16 jaar vorendag gekom. Hy het die 100 m in ‘n kookwater 10,97 sekondes gewen en dit opgevolg met ‘n uitmuntende 200 m-wentyd van 21,37. – RUFUS BOTHA