Fedsas en SAOU wil hof toe oor onderwysposte

0
3010
Fedsas: Jaco Deacon. FOTO: CHRISTAL-LIZE MULLER.

Fedsas en die onderwysunie, SAOU, wil hulle tot die hof wend in ‘n poging om die Departement van Onderwys in die Vrystaat te dwing om vakante poste spoedig by skole te vul. Fedsas se adjunkhoof, Jaco Deacon, sê die departement het sy onderneming gegee dat bevorderingsposte wat skoolhoofde, adjunkhoofde en departementshoofde insluit asook posvlak 1-poste, wat gewone onderwysers insluit, gevul gaan word. Dit nadat die departement aanvanklik ‘n moratorium op alle aanstellings behalwe poste in wiskunde, wetenskap en rekeningkunde tot einde Maart vanjaar ingestel het. Die moratorium is egter teruggetrek nadat vakbonde hul ontevredenheid gelug het. Deacon sê sedertdien vind die aanstellingsproses egter nie by alle skole plaas nie.

 

Die probleem is skole kan nie bestuur word en onderrig kan nie geskied as vakante poste nie gevul word nie. Fedsas en die SAOU is ongelooflik gefrustreerd met dié stadige proses om vakante poste te vul. As die departement nie vandag vir ons antwoorde gee nie laat dit ons met geen ander keuse as om ‘n dringende aansoek voor die Vrystaatse hooggeregshof te bring nie.

Fedsas en die SAOU het die departement tot verlede Vrydag die geleentheid gebied om vakante poste te vul. Teen vanoggend het die departement nog geen terugvoer gegee nie.

Deacon sê bevorderingsposte se vakaturelys is al verlede jaar in Augustus gepubliseer en volgens die departement se beplanning was die aanstellingsdatum 1 Oktober verlede jaar. Baie poste is nie gevul nie. Daar is ook posvlak 1-posisies vir onderwysers wat steeds vakant is. Dié poste word gewoonlik tydelik gevul vir sowat ses maande deur onderwysers wat waarneem. Dié onderwysers, wat vandeesmaand begin het, gaan ontnugter word teen die einde van Januarie wanneer hulle nie hul salarisse ontvang nie. Dieselfde geld vir departementele beurshouers wat vanjaar begin waarneem het. Fedsas het van betroubare bronne verneem die proses van die verwerking van hul salarisse is nog nie deur die departement uitgevoer nie omdat hulle name nie in die sisteem verskyn nie. – Christal-Lize Muller