Fedsas bied steun aan nuutverkose beheerliggaamlede

0
462

Tussenverkiesings om vakatures in beheerliggame te vul, word tans by talle staatskole in Suid-Afrika gehou. Luidens ‘n verklaring van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) is dit belangrik om hierdie nuwe beheerliggaamlede te ondersteun sodat hul werksaamhede met die minste moontlike ontwrigting kan voortgaan.

Fedsas het vanjaar twee groot inisiatiewe begin om dit vir nuutverkose beheerliggaamlede so gerieflik moontlik te maak om hul kundigheid te verbreed. Eerstens is daar ʼn e-leer-kursus wat tot einde Maart beskikbaar is en wat beheerliggaamlede in staat stel om op hul eie tyd en teen hul eie pas die opleiding te voltooi. Dan is die publikasie ʼn Praktiese Handleiding oor Skoolbeheer nou ook as ʼn e-boek beskikbaar in al 11 amptelike tale,” sê dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van Fedsas. Die publikasie is spesifiek gemik op die induksie en opleiding van skoolbeheerliggaamlede, lui die verklaring.

Volgens Deacon het hulle verlede jaar Fedsas se e-leer-platform bekend gestel, waar nuwe kursusse gereeld bygevoeg word. “Die platform word deur Fedsas se Sentrum vir Tegnologie bestuur en verskeie elemente van Fedsas se opleidingsmateriaal en publikasies is reeds elektronies beskikbaar,” sê hy.

Die e-leer-platform vervang nie Fedsas se primêre opleiding nie, maar maak dit wel moontlik vir beheerliggaamlede wat nie die opleidingsessies kan bywoon nie, om steeds toegang tot die materiaal te verkry.

Fedsas se Sentrum vir Tegnologie het ook 13 van sy publikasies as e-boeke op die Snapplify-platform beskikbaar gestel. “Vir Fedsas is dit baie belangrik om tred te hou met tegnologiese ontwikkeling en mense se veranderende behoeftes. Aanlyn-publikasies maak inligting maklik bekombaar en bied veral ʼn goeie alternatief aan beheerliggaamlede in afgeleë gebiede wat andersins sukkel om materiaal in die hande te kry.” sê Deacon.

info@bloemfonteincourant.co.za