Bloemfontein is sinoniem met sport. In elke sportsoort sal jy ’n presterende Bloemfonteiner kry, en pluimbal is geen uitsondering nie. Wat dit egter wel skei van ander sportsoorte, is dat daar ’n hele Bloemfontein-familie is wat daarby betrokke is.
Chris Dednam is ’n voormalige Olimpiese pluimbalspeler, wat aan die 2004 en 2008 Olimpiese Spele deelgeneem het, sy broer Roelof was ook ‘n Olimpiese Speler. Nou is dit die beurt van hul kinders om in hul voetspore te volg.
“Pluimbal is ons passie,” het Chris vertel, “en dis lekker om te sien dat die volgende generasie dit ook geniet.” Chris se seuns, Aiden (12) en Charltin (9), asook Roelof se kinders, Shaun (10) en Marlie (8), speel nou pluimbal, en dit is hul beurt om hul stempel op die sport af te druk.
“Ons stel die kinders bloot aan verskeie sportsoorte, maar dis lekker om te sien hoe die kinders se standaard verbeter van een toernooi na ’n volgende,” het Chris gesê. “Hulle geniet die sport vreeslik en dis nie moeilik om hulle met Pluimbal te motiveer nie,” het hy vertel.
“Aiden wil graag oorsee gaan, en dit motiveer hom om hard te oefen.” Terwyl hy self erken dat dit baie moeilik is om vir die Olimpiese Spele te kwalifiseer, het Chris verduidelik dat hy bevoorreg is om dit twee keer te kon regkry.

“ ’n Goeie doelwit [vir die Dednam-kinders] is om nasionale spanne te haal en daarna Afrikakampioene te word.” Chris vertel dat Aiden baie bedrewe is en nie altyd besef dat hy nog jonk is nie, terwyl Charltin “happy go lucky” is en op hierdie stadium nog net pluimbal geniet vir wat dit is.
Al vier Dednams het oor die naweek aan verskeie pluimbal-kategorieë deelgeneem.
Aiden het in die o.17 ope deelgeneem, al is hy slegs 12, terwyl Shaun, Marlie, en Charltin mekaar in die gemengde dubbels finaal ontmoet het. Die Dednam-kinders se volgende doelwit is om in Mei op die ope toernooie in Durban weer te gaan oorheers.
Warren Hawkins