Familie steeds in duister na wrede moord

0
3166
Na die moord op Theo van Wyk worstel sy familie steeds met die hartseer. Van links is Sugar van Wyk, bekende sakeman en Theo se oom, sy suster Theonie, en sy ma Annah. FOTO: PIERCE VAN HEERDEN

“Ons soek af sluiting. Ek soek af sluiting, want Theo het nog die oggend sy moord vir my gesê hy sien my later, maar hy het nooit weer teruggekom nie.”

Dit is die woorde van ‘n hartseer Theonie van Wyk, suster van Theo van Wyk, ‘n senior mediese tegnikus by Ampath in Bloemfontein, wat drie jaar gelede vermoor is. Die familie het hul stilte verbreek drie jaar na die moord op Theo.

Theo is op 6 September 2015 in die vroeë ogendure by die Elangeni-woonstelgebou in Parkweg vermoor. Sy bebloede lyk is ‘n paar meter van die agterdeur van die woonstel wat hy met sy vrou in Willows, Bloemfontein, gedeel het, gevind.

Theo van Wyk Foto: Facebook

Drie jaar later is die moord steeds nie opgelos nie en die bedroefde Van Wyk-familie soek antwoorde. “Dis seer om ou wonde oop te krap, maar ons moet. Die familie is stukkend,” sê Theonie.

Volgens die Van Wyk-familie wil hulle nie mense blameer beskuldig nie, maar hulle soek net sluiting. Die saak teen Van Wyk se vermeende moordenaar, Ellister Brummage, wat menige keer in die landdroshof verskyn het, is van die rol geskrap en tot dusver is niemand in hegtenis geneem in verband met die moord nie.

In ‘n onderhoud met Bloemfontein Courant het die Van Wyk-familie vertel dat ‘n foto van die moordtoneel, waar Theo in ‘n plas bloed lê, in ‘n bruin koevert aan sy ma, Anna van Wyk, se huis gestuur is. Sy is geweldig getraumatiseer hierdeur.

Bloemfontein Courant het met plaaslike owerhede gepraat, maar kon nie inligting kry oor die saak nie aangesien dit nog ondersoek word. Aanklaer, M. Gwadi, wat deel is van die ondersoek, het Bloemfontein Courant ingelig dat sy niks verder kan sê nie. – Pierce van Heerden
pierce@mahareng.co.za