Eunice wen SA skole-pluimbaltitel

0
786
RUFUS BOTHA

Die verskeidenheid sportsoorte waarin die Hoërskool Eunice op nasionale vlak uitblink is iets om oor opgewonde te raak.

Dié skool se meisies het verlede naweek hul staal getoon by die Suid-Afrikaanse skole-pluimbalkampioenskap wat in Pretoria beslis is. Eunice het met die titel huiswaarts gekeer.

Eunice het die krag van die Wes-Kaap, die Hoër Meisieskool Bloemhof (Stellenbosch), in die eindronde van die kampioenskap met 3 – 2 geklop. Die kompetisie was van hoogstaande gehalte en van wegholseges was daar nie veel te sprake nie. Maar, toe dinge warm raak in meeste van Eunice se wedstryde het hulle elke keer die knoop deurgehak.

In die halfeindronde het Eunice die sterk span van Tuine (Pretoria) met 3 – 2 geklop. In hulle opmars na die kampioenskaptitel moes hulle afreken met die Hoërskool Alberton (3 – 2), St. Dunsten (3 – 2), HTS Pretoria (4 – 1) en Diversity College (3 – 2).

Die Hoërskool Jim Fouché se meisies het hulle ook goed van hulle taak gekwyt en algeheel derde in die afdeling vir meisies geëindig.

Eunice het met hul puik oorwinning seker gemaak dat hulle in Desember die land gaan verteenwoordig by die Afrika-skolekampioenskap in Mauritius. Met puik spelers soos Leah Schoeman en Nita Scholtz onder Eunice-geledere, sal dit nie as ‘n verrassing kom as dié prestige-skool as Afrika-kampioen uit die stryd tree nie.