Eunice-hokkiespan nr 1 in SA

0
1664
Die meisies spog omdat hul die nr 1 laerskool meisie hokkie span in Suid-Afrika is.

Die onoorwonne Eunice Girls Primary School se o.13A-hokkiespan het die afgelope naweek die Champ of Champions-toernooi in Potchefstroom gewen.

Net tien tophokkieskole in Suid-Afrika is na die toernooi genooi. Eunice het al die spanne met hoë tellings geklop en uiteindelik in die eindwedstryd teen die Laerskool Lynnwood van Pretoria 2 -1 gewen. Dié prestasie maak die hokkiespan die beste in Suid-Afrika.

Dee afrigter van die span, Braam van Wyk Jr, vertel dat hy in 2016 by dié spogskool hokkie begin afrig het en reeds twee jaar met dié spesifieke span werk en aan hulle bou met die ideaal om vanjaar se Champ of Champions-toernooi te wen.

Die span is sover onoorwonne en het reeds al hul wedstryde gewen voordat die toernooi plaasgevind het. Hulle het eers die OMS Pietie Coetzee-toernooi gewen en toe ‘n suksesvolle toer na die Oos-Kaap onderneem. “Na verloop van al die toere en toernooie het die span regtig met baie selfvertroue Champs of Champions toe gegaan en het ons gedink ons het ‘n goeie kans om die toernooi te wen,” vertel Van Wyk.

Volgens hom moes die meisies nie net fisiek goed voorbereid wees vir elke wedstryd nie, maar ook emosioneel. “Met ons oefensessies het ons probeer oefen op wedstrydintensiteitsvlak, ons het op gereelde basis teen verskeie seunspanne soos Grey o.13A en St Andrew’s o.13A probeer speel. Op emosionele vlak het ons die skool se sportsielkundige ingeroep om met die groep werk voordat die toernooi begin het,” verduidelik Van Wyk.

Die span, sowel as die afrigter, was baie verheug oor die goeie prestasies dié jaar, veral oor die oorwinning by die Champ of Champions- toernooi. “Die meisies het in ‘n siklus van twee jaar ongelooflik hard gewerk. Al wat enige afrigter van sy/haar spelers kan vra, is om elke dag tydens oefeninge en wedsryde net een tree beter te wees as die vorige dag, en dit is presies wat dié groep meisies gedoen het.” – Jeretha Oosthuizen
jeretha@mahareng.co.za