Ete in die donker, een vir die boeke

0
445
Emse en Dewald Hattingh, blinde egpaar wie se huis verlede jaar afgebrand het, kuier saam by die Dinner in the Dark-geselligheid. FOTO: SAZLY HARTZENBERG

Ondersteuners van die Vereniging vir Blindes Vrystaat het die afgelope naweek die Dinner in the Dark-ete bygewoon wat in samewerking met Windmill Casino aangebied is. Geld is hiermee ingesamel vir dié nie-winsgewende organisasie, terwyl hul 90ste verjaardag ook gevier is. Soos in die verlede, was dit ‘n unieke geleentheid wat deur sakelui en individue van die Rosestad geniet is.
Gaste by die geleentheid is uitgedaag om hulself in die skoene van ‘n blinde te plaas en hul voorgereg en nagereg in die donker te eet. Vir diegene teenwoordig, het dit nie te moeilik geklink nie, en die uitdaging is aanvaar… met heelwat van die kos wat op die tafel beland het en nie in die mond nie.
Vernon Barnard van The Voice SA (2016) was die gasspreker en kunstenaar by die geleentheid. Die jong man het sy lewensverhaal met gaste gedeel en menige met ‘n knop in die keel gelaat. Barnard het al baie mense geïnspireer met sy deursettingsvermoë, veral met dit wat hy bereik het nadat hy weens gloukoom én 16 operasies later geheel en al blind gelaat is. Hy het vertel hoe hy sy lewe moes “optel” en aangaan. Vandag steel hy mense se harte met sy sang, soos gaste van die aand kan getuig.
Die gewone veiling van die aand was ‘n groot sukses, met talle artikels wat deur ondersteuners en besighede geskenk is en wat die aand vir gaste nog te meer onvergeetlik gemaak het.
Die voorsitter van die Verening vir Blindes, Nathan Malotle, het gesê dat mense op die uitkyk moet wees vir ander geleenthede wat hierdie maand gaan plaasvind, aangesien die vereniging sy verjaardag regdeur die maand gaan vier. – SAZLY HARTZENBERG
sazly@centralmediagroup.co.za