Erfenisdag skoonmaak-aksie in Langenhovenpark

0
1078

Op Erfenisdag, Woensdag 24 September 2014, het lede van die Langenhovenpark Inwonersvereniging self ingespring en ‘n skoonmaak-aksie in die oop ruimtes langs Jan Spiesstraat, Langenhovenpark, geloods.
Verskeie sake vol rommel is verwyder en gesteelde eiendom en huisbraaktoerusting is in die proses gevind. Die regmatige eienaars van die gesteelde eiendom is met die hulp van gemeenskapslede en ondernemings in Langenhovenpark opgespoor en die items (o.a. bankkaarte wat in ‘n handsak was wat vier maande gelede gesteel is) is aan hulle terugbesorg. Die huisbraaktoerusting is deur die Langenhovenpark Gemeenskapspolisiëringsforum aan die SAPD oorhandig.
Met hierdie skoonmaak-aksie het die inwoners van Langenhovenpark ‘n daadwerklike bydra tot die instandhouding en bevordering van die woonbuurt se eie erfenis gemaak. Langenhovenpark was nog altyd beskou as een van Bloemfontein se mees gesogte voorstede en gekenmerk deur ‘n skoon omgewing, met goed versorgde oop ruimtes.
Die huidige realiteit is egter dat ons gebied nie meer so netjies, skoon en veilig is nie en dat inwoners self verantwoordelikheid vir die bevordering van die woonbuurt se belange sal moet neem. Persone wat daarin belangstel om by toekomstige skoonmaak-aksies in Langenhovenpark betrokke te raak is welkom om Louis Smith (083-406-9788) te skakel of om die Langenhovenpark Inwonersvereniging se Facebook-blad by https://www.facebook.com/Langenhovenpark te besoek.