Entrepreneur wil jeug ophef

0
228
Jason Pietersen FOTO: PIERCE VAN HEERDEN

‘n Oudleerder van die Dr. Böhmer-vaardigheidskool, Jason Pietersen, se droom om eendag sy eie onderneming te besit, het waar geword toe dié 30-jarige van Heidedal in Bloemfontein sowat twee maande gelede sy eie besigheid, Jason’s Panel Beating and Spray Painting, se deure geopen het.

Pietersen vertel hoedat hy op skool onderrig is in dié ambag en dat dit vir hom ‘n maklike keuse was, aangesien hy van kleins af ’n liefde vir motors gehad het. Sy ideaal is nou om sy besigheid te laat groei en terselfdertyd aan jongmense in die gemeenskap ‘n geleentheid te gee om hul drome na te volg.

Ek wil saam met kinders uit my gemeenskap en rehabilitasiesentrums werk om hulle ‘n tweede kans te gee. Ek wil help dat hulle sukses behaal, want ek het ‘n kans in die lewe gekry,” sê Pietersen.

Hy het aan Bloemfontein Courant gesê dat hy, ondanks baie uitdagings wat hy moes trotseer, graag ‘n voorbeeld vir ander wil wees. Hy het tot dusver drie mense uit sy gemeenskap in permanente poste aangestel, sowel as een vryskutwerker.

Dit maak nie saak wat jou omstandighede is of waarvandaan jy kom nie, jy kan iets in die lewe bereik,” is Pietersen se bemoedigende woorde.

Pierce van Heerden

pierce@mahareng.co.za