Vanjaar se Omgiemaand en Omgiedag op 27 Oktober 2023 was ’n reusesukses. Dit is volgens Engo Vrystaat se Alda Fourie.
“Danksy die mediaborgskap van OFM en Bloemfontein Courant, het die nuus soos ’n veldbrand versprei en is meer as 20 000 plakkers die afgelope maand versprei. Met enkele Omgiedag-bydraes nog uitstaande, staan die inkomste van die projek reeds op R155 211,” het sy verduidelik.
Die wonderlike inisiatief is regoor die Vrystaat ondersteun deur besighede, skole, en individue. Almal het bygedra om dit ’n sukses te maak. “Ons wil graag die gewoonte van OMGEE vir mekaar onder kinders van alle ouderdomme kweek, maar ook onder volwassenes,” sê De Wet Claassens, Hoof Uitvoerende Direkteur van Engo Vrystaat.
Jacobus Silwer en Cezanne Yzelle het ook hierdie jaar vir Engo ’n spesiale liedjie saamgestel. “Kyk na die Here”, is ’n spesiale liedjie wat Engo se deernisvolle gees op ’n lewendige en boeiende manier uitdruk.
Die liedjie is presies waaroor Engo se hart is. Die woorde en wysie is van só ’n aard dat ’n mens nie anders kan as om net te wil saam dans nie. ’n Spesiale dans is uitgewerk wat die kinders kon aanleer, en die eerste pogings van die danse is reeds by skole gesien wat Omgiedag saam met ons gevier het.”
Volgens Engo is die oorweldigende reaksie van die publiek ’n demonstrasie van die krag van ’n gemeenskap wat saamstaan. Dit bewys dat ons saam positiewe verandering kan meebring en ’n beduidende verskil kan maak in die lewens van behoeftiges.
“Engo wil graag elkeen bedank wat aan hierdie inspirerende inisiatief deelgeneem het. Baie dankie aan OFM en Bloemfontein Courant vir hulle lojale ondersteuning van die projek.”
Gypseenia Lion
gypseenia@mahareng.co.za