Emosionele intelligensie – belangriker as wat jy dink

0
7497

MARINé JACOBS

Die term emosionele intelligensie is ‘n relatiewe nuwe begrip. Dit is in 1985 vir die eerste keer bekendgestel en eers in 1990 vir die eerste keer in die sielkunde nagevors. Vandag, 22 jaar later, besef sielkundiges, psigiaters en lewensafrigters die kardinale belang van emosionele intelligensie. Courant het ‘n paar lesers gevra wat hul definisie van emosionele intelligensie is en die antwoorde het dit duidelik gemaak dat almal nie heeltemal verstaan waaroor dit gaan.

‘n Kliniese sielkundige van Bloemfontein, Jo-Anne Smit, definieer emosionele intelligensie as die vermoë om emosies raak te sien, te beheer en te evalueer. Dit is ‘n tipe sosiale intelligensie wat jou in staat stel om jou eie en ander se emosies te monitor en hoe om hierdie inligting te gebruik om jou eie denke en gedrag te bepaal.

So waarom is dit belangrik? “As jy daaroor dink, het dit ‘n groot impak op jou gedrag, jou interaksie met ander, hoe jy gemoed bepaal en om emosionele intelligensie te hê, beteken ook dat jy ‘n manier het om met ander om te gaan wat hulle na jou toe aantrek,” verduidelik Smit. “So dit het ‘n reuse invloed op jou verhoudings en sukses by die werk of skool.”

‘n Leierskap- en lewensafrigter van Bloemfontein, Herman Veitch, stem saam dat emosionele intelligensie baie belangrik is vir suksesvolle verhoudings, en sê dat onkunde en luiheid dikwels die rede vir ‘n lae vlak van emosionele intelligensie is. “Die meeste mense wil nie die harde werk doen om hul emosies te bemeester nie,” sê hy.
 
Hy voeg egter by dat emosionele intelligensie soos enige ander vaardigheid aangeleer of verbeter kan word. “Dit bly maar ‘n lewenslange proses. Die kortste oplossing is dalk om op ‘n kursus te gaan oor emosionele intelligensie, of jy kan vir jou ‘n life coach kry of ‘n sielkundige gaan sien,” sê Herman. “Maar dit is vir ‘n tydperk wat ‘n ou moet engage met jou emosies. Jy moet vrede maak met ‘n klomp goed, jy moet verstaan hoe dit werk en dan moet jy dit begin toepas.”

Smit sluit hierby aan deur ‘n paar riglyne te gee vir die evaluasie van jou eie emosionele intelligensie:

NEWS YOU CAN USE:
1. Kyk na jou vermoë om stres te verminder. Stres speel ‘n groot rol in ons lewens en kan ons verhinder om ons emosies effektief te hanteer.
2. Het jy die vermoë om jou eie emosies te herken en te hanteer?
3. Het jy die vermoë om met ander deur middel van nie-verbale kommunikasie te kommunikeer?
4. Kyk na jou vermoë om humor te gebruik om die alledaagse lewe te hanteer.
5. Laastens, kyk na jou vermoë om konflik op ‘n positiewe manier en met selfvertroue op te los.