Elke skildery vertel ‘n verhaal

0
43
Liezl Spangenberg besig met ‘n skildery

Dramatiese druppels, spatsels en intense kontraste is een manier om die werk van die Bloemfonteinse kunstenaar, Liezl Spangenberg, te beskryf. Dié talentvolle kunstenaar het so te sê met ‘n verfkwas in haar hand grootgeword.

Die 29-jarige kunstenaar is gebore en getoë in Kimberly, maar het Bloemfontein haar tuiste gemaak nadat sy in 2014 haar BA-graad in Skone Kunste (Fine Arts) aan die Universiteit van die Vrystaat voltooi het.

Spangenberg het ook ‘n tydjie in Potchefstroom deurgebring om kunsgeskiedenis en humaniora (die wetenskappe wat op die studie van mens betrekking het) te studeer, maar het vinnig besef dat sy die verfkwas te veel mis.

‘n Skildery deur Liezl Spangenberg

Spangenberg beskryf haar werk as altyd evoluerend, vry en spontaan, maar steeds aangrypend en intens. “Ek hou daarvan om dramatiese druppels en spatsels en intense kontraste in te bring, maar ook om dit alles op te lig deur ‘n bietjie rou leë doek agter te laat, en ‘n soort vars gevoel.”

Sy skilder meestal mense, portrette en figure. “Ek begin gewoonlik deur die onderwerp met houtskool of oliepit te skets. Dan doen ek die abstrakte agtergrond met

ink, giet akriel, wateroplosbare grafiet, verfmerkers, basies enigiets wat ek kan vind! Ek werk dan deur baie lae, ek begin met akriel en eindig met olies, ” vertel sy.

Spangenberg sal ook haar kuns van 17 September tot 4 Oktober 2020 ten toon
stel op ‘n kunsuitstalling by Gallery on Leviseur. Die uitstalling is getiteld “Authentic Soul by Liezl Spangenberg” en volgens haar is dié naam gebaseer op die idee

dat die onderwerpe almal verswelg word in die ervaring om waar te wees en om teenwoordig te wees.

“Ek glo dat die wêreld op ‘n opbouende manier honger na iets wat eg is. Ons leef in ‘n era waar dit so maklik is om ‘n vals, gefiltreerde lewe te lei. Ek probeer nie net self outentiek leef nie, maar ek streef daarna om só heeltemal myself te wees, soveel so dat dit mense rondom my veilig genoeg sal laat voel om ook hulself te wees,” het Spangenberg afgesluit.

Enigiemand wat belangstel om ‘n oorspronklike skildery of op kommissie te bestel, kan haar per e-pos kontak by liezl. art@gmail.com of bel, of WhatsApp by 082 414 0173. Vir meer, volg haar op Instagram @liezlspangenberg_art of op Facebook @ Liezl Spangenberg Art. Sy sal binnekort ‘n webwerf bekendstel; wees dus op die uitkyk daarvoor.

Pierce van Heerden

pierce@mahareng.co.za