Elizna Naudé leier by atletiek-kliniek in Bfn

0
3188

Een van Suid-Afrika se voorste vroue-atlete van alle tye, Elizna Naudé, het van haar tuisdorp, Sasolburg, gereis om haar geheime met talle opkomende diskusgooiers te deel wat onlangs die Laerskool Fichardtpark se atletiekkliniek bygewoon het.
Naudé, wat steeds die senior Suid-Afrika- en Afrika-rekordhouer is (64,87m) in diskusgooi vir vroue, was vir meer as 'n dekade een van die wêreldbestes in haar nommer.
Sy het onder meer aan twee Olimpiese Spele (2004 en 2008) en twee Wêreldkampioenskapbyeenkomste (2005 en 2009) deelgeneem.
Naudé het in 2006 een van haar hoogtepunte opgedis toe sy as die Statebondkampioen in Melbourne, Australië, gekroon is.
Die genoemde kliniek het voorsiening gemaak vir alle atletieknommers en meer as 250 kinders het dit bygewoon. Die lokaas vir dié groot getal was dat daar (buiten Naudé) van die land se bekende afrigters teenwoordig was om die kinders in onderskeie spesialisnommers touwys te maak.
Twee van dié afrigters wat baie aandag getrek het en selfs moes tyd inruim vir 'n televisie-onderhoud, is die nuutgekroonde 400m-wêreldkampioen, Wayde van Niekerk, se ma en stiefpa, Odessa en Steven Swarts. Hulle het hul kennis oor naellope gedeel. Steven het 'n paar keer al 'n nasionale span na die buiteland vergesel en is onlangs as adjunkpresident van Atletiek-Vrystaat (AVS) verkies.
Elinda Vorster, wat die halfeindronde in die 200m by die Olimpiese Spele in 1992 (Barcelona) gehaal het, was ook deel van die afrigtingspan wat gehelp het.
Dan was daar een van die beste hoogspringafrigters wat Suid-Afrika tot nog toe opgelewer het, Jonathan Greyvenstein. Hy het onder meer die wêreldjeug-, -junior- en -seniorhoogspringkampioen, Jacques Freitag, gebrei.
Die ander bekende afrigters wat hul kennis kom deel het, is Conradie Scheepers (gewigstoot en diskus), Dup du Plessis (hekkies), Frans Human (spiesgooi), Le Roux Jordaan (ver- en driesprong), Ezbé Strydom (middel- en langafstand) en Schalk Brand (spiesgooi).
'n Pluimpie moet gaan aan Jan Britz (Laerskool Fichardtpark) vir die puik organisasie van dié kliniek. Britz is self 'n veldnommerafrigter van formaat. – Rufus Botha
info@bloemfonteincourant.co.za