Ek wil nie alleen wees nie! – 26 Januarie 2017

0
2824

Die nuwe jaar is voluit aan die gang, met Kersfees en die vakansietyd so ‘n bietjie vergete. Skielik word ek en jy gekonfronteer met die gewone eise van die lewe. Werkhok en slaaphok word weer ‘n realiteit. Ons mis die luilekker tye van Desember en die saamkuier met familie en vriende. Ons voel alleen en die lewe begin weer met ‘n nuwe jaar, 2017, en al sy uitdagings. Tog is die oomblikke van alleen-wees ook die tye van stilte en groei. In Lukas 6 vers 12-13 lees ons van Jesus wat uitgaan na die berg om te bid. Alleen en in stilte. Hy gebruik die oomblikke van alleen-wees om met Sy Vader te praat en rustig oor Sy lewenspad te dink. Ons het ook oomblikke van alleen-wees nodig. Dit is dalk meer belangrik aan die begin van ‘n nuwe jaar. Die tye van alleen-wees gee ons kans om oor ons pad vorentoe en die doelwitte van die jaar na te dink. Dit gee ons kans om weer te fokus op die dinge wat belangrik is. Dit is die groei-oomblikke van die lewe. Gebruik dit en raak net vir ‘n oomblik stil vandag. Ek waarborg jou, jou dag gaan anders wees as gister!

Ds. Stephan van Heerden