Ek soek na my Dina in die sangklas

0
2388
Photo: Music Academy South

Sangklasse op skool was altyd die lekkerste klasse. Jy kon jokes met jou pelle maak en op die bankie reg agter die meisie, op wie jy ‘n ogie gehad het, staan.

Dit was nie boelie om stilletjies haar vlegsels te trek nie. Die jong sangjuffrouens was boonop saggeaard en selfs skrikkerig vir hoërskoolseuns wat begin baard kry. ‘n Mens kon met moord wegkom in die sangklas.

Behalwe in Juffrou Ronnie se klas. Sy was ‘n oujongnooi wat geen nonsens gevat het nie. Juffrou Ronnie sou nie twee keer dink om ‘n eerstespan-slot so ‘n taai klap te gee dat sy ore ‘n uur later in die wiskundeklas nog getuit het nie.

Die liedjies wat ons gesing het, sal my altyd bybly. Van die simpel Ek Soek Na My Dina tot by die pragtige Greensleeves. “Alas, my love, you do me wrong, To cast me off discourteously.”

Ons het geen idee gehad wat “alas” en “discourteously” beteken nie, maar dit het na die soort song geklink wat ons ontwakende emosies veel beter beskryf het as bv. Saam Met Die Wa. “Jan, bring die braaivleis; Piet, bring die wors. Malie my liefling, ek voel dors.”

Daar was ook On the Road to Mandalay. Ek het drome gedroom oor daardie veraf plekke wat ek nog sou besoek. Rangoon. China. Suez. Daar was die wind in die palmbome van Mandalay. En daardie beeldskone meisie van Burma. “And I know she thinks of me.”

Ek het nog altyd ‘n wonderlike sangstem gehad, maar om die een of ander rede het Juffrou Ronnie daar op Senekal my nooit enige solo’s laat sing nie. Ek kon dit nie glo toe ek ook weggelaat is uit die kunswedstryd-koor nie.

Vreemd genoeg het hulle my sangtalent ook later, toe ons op Vryburg gebly het, misgekyk. Die skool het die operette, Freule Marike, opgevoer. Die hoofrol met die baie arias kon slegs myne wees. Toe laat hulle my glad nie sing nie en kry ek net ‘n klein praatrolletjie.

My ma het darem na die tyd gesê ek het baie mooi gepraat.

Albé Grobelaar