Ek ly aan ‘punctus exclamativus’

0
259

Die uitroepteken het ’n lang geskiedenis. Daar is vir baie jare geglo dat die Italiaanse digter, Iacopo Alpoleio da Urbisaglia, wat in die laat 1300’s geleef het, die vader van die uitroepteken was.

Maar meer onlangse navorsing het uitroeptekens, net soos ons hulle vandag ken, in grotte gevind wat 5,000 jaar terugdateer. Dit is as waarskuwing gebuik teen die gevare van die jag van mammoet-olifante! Sedert ek in selfkwarantyn al hande-wassende sosiale distansiëring toepas, kan ek ook nou meer TV kyk. (Ja, ek vee kort-kort die remote met ’n Detol-lappie af!) Op Netflix ontdek ek laas week ’n wonderlike dokumentêre reeks wat bloot getiteld is: EXPLAINED. En daar kom ek op ’n programmetjie af oor die uitroepteken.

Het jy geweet dat Herman Melville in MobyDick, wat in 1851 verskyn het, nie minder nie as 1,683 uitroeptekens gebruik het? Maar presies ’n honderd jaar later, in 1951, is daar slegs één uitroepteken in die hele manuskrip van Ernest Hemingway se The Old Man and the Sea. Skrywers het hulle begin verset teen die oorgebruik van die geliefde punctus exclamativus.

Ook F. Scott Fitzgerald, wat in sy vroeë werke lustig saam uitgeroep het, het herbesin. Vir sy minnares, die skinderbek-skrywer Sheilah Graham, sê hy in ’n stadium sy moet ontslae raak van alle uitroeptekens. “An exclamation point is like laughing at your own joke,” sluit hy af (sónder ’n uitroepteken)!! Die enigste akademiese studie oor die verskille tussen mans en vrouens wat betref hulle gebruik van die uitroepteken, is in 2005 gedoen.

Die resultaat is nogal interessant. In die uiteenlopende vorme van elektroniese kommunikasie word 73% van alle uitroeptekens deur vrouens gebruik en net 27% deur mans! Ek vrek oor die uitroepteken!! Ek’s in touch met my feminine side!!!

Albé Grobelaar