Ek LOVE die Vrystaat

0
1823

Die Ek LOVE die Vrystaat-produksie is die Vrystaters en Noord-Kapenaars se eie skouspelagtige, groter as groot, beste Afrikaanse musiekextravaganza in die wêreld ooit!

“Wanneer mense my bel en vra wanneer watter kunstenaars gaan optree, kry ek lekker lag en besef maar net weer die gehoor weet nie wat hulle volgende Vrydagaand gaan tref met hierdie musiekextravaganza in die Vrystaatstadion nie,” vertel Christa Strydom van 360ProManagement.

“Ons kan nie eens daarna verwys as ’n konsert nie, want dit is ’n massiewe produksie met ’n konsep wat nog nooit voorheen in
ons land aangebied is nie en wat vir die eerste keer op die Ek LOVE dieVrystaat-verhoog gaan gebeur.

“Mense moet asseblief nie kom met die verwagting dat elke kunstenaar ’n paar liedjies gaan sing en plek gaan maak vir die volgende kunstenaar met die hoogtepunt een van die topkunstenaars wat die aand afsluit nie. Hierdie is ’n volledige produksie wat teen die agtergrond van ’n fliek afspeel met ’n model wat die hoofrol speel en die kunstenaars wat deel vorm van haar herinneringe aan die Vrystaat.

Ongelooflike beeldmateriaal is vervaardig om die kunstenaars se musiek te komplementeer en die verhoog gaan asemrowend groot gebou word met die fokuspunt ’n massiewe windpomp wat nie net gaan wag vir die wind om te waai nie, maar met vele verrassingselemente,” sê Christa.

Sy vertel nege legendariese sangers gaan solo-optredes lewer, saam met Grey-kollege se koor sing, liedjies in duet met mekaar deel. Ander kunstenaars gaan medleys met die gehoor deel en soms sommer almal saam gelyk optree – alles om Karien se storie te vertel, met 7de Laan se Ryno, oftewel Chris Vorster, wat as seremoniemeester alles en almal, soms komies en ander kere meer ernstig, bymekaar gaan hou.

“Ek LOVE die Vrystaat is reeds op almal se lippe, maar gaan beslis die event van die jaar op die Vrystaters en Noord-Kapenaars se kalenders word.

Die stadion is beskikbaar van 11 uur die oggend vir nuuskieriges om te kom luister hoe die kunstenaars tydens rehearsals klink (let wel julle gaan dalk kan hoor, maar beslis niks kan sien nie) en ’n vleisie te kom braai. Mamma kan ’n wyntjie bestel in die baie gesofistikeerde wyntuin terwyl Pappa ’n bier in die biertent kan geniet, of almal kan sommer lekker loop en snuffel deur die vlooimark-uitstallings. ’n Baie groot hoogtepunt is die straatkuns wat plaasvind tussen 11 uur en 5 uur die middag.

Enigiemand kan hiervoor inskryf en groot pryse kan gewen word deur die simboliek van die Vrystaat met die CellC-logo uit te beeld,” sê Christa.

“Daar is nog sitplekke beskikbaar – ons maak plek vir almal en elke bespreking is ’n gereserveerde sitplek. Geen eie stoele en komberse nie.”

Vir enige navrae, bel Christa by 082-375-0981.