Ek ken nie dié Cheetahs, ‘deal with it’

0
376

Hoe meer ’n mens vorder in jare, hoe belangriker raak dit om eerlik te wees. Nie net teenoor jouself nie, maar ook teenoor die res van die wêreld.
Een van die lekker dinge van oudword, is dat jy min gespin is oor wat mense van jou dink.
In die lig van bogenoemde maak ek graag ’n paar bekentenisse. Kom ons noem dit Belydenisse van ’n Byna-Bejaarde.
Ek ken heelwat minder van die woorde van ons volkslied as Kurt Darren. Maar voordat die regses my omhels, ek dink Nkosi Sikelel’ iAfrika is ’n pragtige lied, wat my koue rillings (en soms trane) gee elke keer as ek dit hoor. Ek vergeet net die woorde.
Dis ’n skande as mense nie opstaan wanneer Nkosi gespeel word nie. Aangrypend, nou onlangs in Thailand op ‘n lughawe toe die Thaise volkslied oor ’n televisieskerm speel, hoedat álmal in daardie vertreksaal, elke liewe persoon, soos een man opspring om respek te betoon. (Net as jy getwyfel het: Ek is links, ek’s ’n trotse “liberal”.)
Dan, Shakespeare: Ek het in my hele lewe nog net een van sy boeke deurgelees. Dit was voorgeskryf in matriek. Julius Caesar.
Franco Zeffirelli se rolprentweergawe van Romeo and Juliet het ek darem gesien. As ek moet kies tussen Shakespeare en Steinbeck, dan wen die Amerikaner elke keer.
En terwyl by die letterkunde, ek het nog nooit enige boek van James Joyce gelees nie, en ek gaan ook nie. Ek hou ook nie van Chekhov, Tolkien en J.D. Salinger nie.
Dalk is dit ook nou tyd vir ’n bekentenis oor my “loopbaan” in die akademie. In die bykans tien jaar dat ek by die universiteit klas gegee het, was ek nie ’n enkele keer in die biblioteek nie.
My lysie van belydenisse kan lank raak. Ek weet nooit waar ek mag hande klap as my vrou my saamsleep simfoniekonsert toe nie. Ek dink duur rooiwyn is overrated. En daar is minstens nege Cheetahs en vyf Springbokke wie se name ek glad nie ken nie.
Soos ek altyd vir my kinders sê: “Deal with it!”

Albe Grobelaar