Ek en Panther was groot maats

0
929
Photo: Bridge Cycles

Die heel grootste geskenk wat jy vir ’n seun kon gee toe ek grootgeword het, was ’n fiets.

Ek sal nooit my eerste bike daar op Vrede vergeet nie. Skitterblink en splinternuut het die Panther daar gestaan toe ek op die oggend van my tiende verjaardag uit die kamer kom. Ek was effens teleurgesteld omdat dit nie ’n Ralleigh was nie. Ralleigh was die bekende naam. Maar ek en die Panther het gou groot vriende geword.

Ek kan nie onthou dat daar fietse was wat ratte gehad het destyds nie. Dit was ook voor die tyd van die Choppers. Daar was wel dikwiele, waarop ons neergesien het. Met die dikwielfietse moes jy die pedaal agtertoe trap om te briek. Net meisies ry fietse met voetbrieke. ’n Mens kon natuurlik allerhande aanpassings aan jou bike maak. Ek het dadelik begin spaar vir nuwe handles. Die reguit handvatsels móés vervang word met regte egte “drop handles”, want dan sou dit ’n reisiesfiets wees!

En dan was daar natuurlik die carrier. Bo en behalwe die feit dat jy jou boeksak agterop kon laai, kon jy ook jou minderbevoorregte pêlle, wat níe ’n bike gehad het nie, ’n lift gee. En naweke kon jy jou visvangboks met al die hoeke, sinkers, swivels, ekstra lyn en selfs jou pap-aas en visstok agter op die bike vasmaak voor jy die paar myl uit dorpsdam toe trap.

Straathokkie op die fietse was ’n gewilde speletjie vir ons klomp pêlle daar in Bruwerstraat. Ons was gewoonlik ses spelers, drie aan ’n kant. Met tuisgemaakte hokkiestokke het ons dan, soos polospelers op perde, op en af gejaag en die tennisbal bo van die fiets af geslaan na die goal-strepe toe op die teerpad.

My seerste val was nie met die hokkie nie. Dit was toe ek een middag volspoed teen ’n afdraande op die Memel-pad buite die dorp wou afshow. Almal kon loshande ry, maar ek wou beter wees. ’n Mens kan mos jou hande afhaal én dan jou voete optel om mee te stuur, was my teorie.

Dit het nie gewerk nie.

Albé Grobbelaar