E Copy

Date:

Eiendomsagente boos oor borde

Eiendomsagente van die Rosestad was die afgelope week warm onder die kraag toe ‘n onbekende man in ‘n Ford Bantam-bakkie die stad van al wat ‘n eiendomsagent se advertensiebordjie is, gestroop het.
Volgens plaaslike agente is dit nou al maande lank dat hul borde letterlik soos mis voor die son verdwyn.
Jaco de Lange van Rawson Property Group is een van die agente wat al ‘n geruime tyd deurloop. “Ek het onlangs borde ter waarde van sowat R1500 verloor, terwyl ek weet dat ander agente by die R3000 se borde vermis.”
Lig is egter Satedag, 29 Oktober op die saak gewerp toe De Lange ‘n boodskap van ‘n vriend ontvang het om hom in te lig dat sy borde een van talle is wat agter op ‘n bakkie in Fleurdal Mall se parkeerarea lê. Hy het dadelik die munisipaliteit gekontak om uit te vind of die borde deur hul opdrag verwyder is. “Hulle het my verseker die man werk nie vir hulle nie, en dat hulle my sal ondersteun in ‘n diefstalsaak teen die persone.”
Volgens De Lange moet alle eiendomsagente die munisipaliteit betaal om van buitelug-advertering gebruik te maak. Afgesien van dié uitgawe, kos dit tussen R80 en R200 per bord om dit te laat maak. De Lange sê hy het al op ‘n naweek soveel as 24 borde verloor.
“Ons betaal ‘n stewige R7 600 plus administrasiekoste van R800 aan Mangaung om jaarliks, van Junie tot Junie, ons SKOU- en TE KOOP-borde volgens die Ordonnansie vir Buitelug-advertensies van die Mangaung-raad, te vertoon. Ons ly geweldige skade as die borde sommer net verwyder word.”
De Lange sê hy vermoed dat die borde vir die metaalrame gesteel word en dan teen ‘n appel en ‘n ei aan ‘n skrootwerf verkoop word. “Ons borde word verwyder deur oningeligte persone of sommer blatante diewe wat dit gebruik vir eie sake. Mense besef nie die geweldige finansiële uitgawe rondom hierdie advertensies nie.”

img-20161029-wa0001Met die hulp van die Fichardtpark Woonbuurt Assosiasie (FWA) is dié bakkie op 1 November in die suide van Fichardtpark opgemerk waar dieselfde man besig was om agenteborde te verwyder. Een van die FWA-lede het die voorval by De Lange aangegee wat dit toe by die naaste polisiekantoor aangemeld. Die man het, na wat verneem word, meer as R7600 se agenteborde gesteel. ‘n Saak van diefstal is teen die man geopen en die saak word ondersoek.
Elize Theron van Property Boom sê sy was verslae om te hoor een van die talle borde wat sy die afgelope maande verloor het, het sy weg na die Emoya Voetspoorfees van die naweek gevind.
“Die seun van Property Boom se prinsipaal het Saterdag die fees bygewoon en die bord gesien. Hy het dit uitgetrek en in sy motor gelaai. Sekuriteitspersoneel het hom aanvanklik moeilikheid gegee, maar opgegee toe hy sy besigheidskaartjie wys,” vertel Theron.
Theron doen ‘n beroep op inwoners wat enige verdagte aktiwiteite opmerk om dadelik in verbinding te tree met die betrokke agentskap, of om dit sommer op sosiale media te deel.
Volgens Buks Westraad, eienaar van Emoya, word werkers verplig om gereeld borde van eiendomsagente wat onwettig op die landgoed se heining of sommer bo-op Emoya-aanwysings vir advertensiedoeleindes aangebring word, te verwyder.
“Ons beginsel is om nie ‘n klag by die polisie te lê vir opsetlike saakbeskadiging of ‘n dergelike klagte nie, maar slegs die borde te verwyder en die spesifieke eiendomsagentskap te skakel om hul borde te kom afhaal en hoflik te vra om dit nie weer te doen nie. Ons kontak elke keer die betrokke agentskap wanneer ons borde verwyder en indien die borde nie afgehaal word binne ‘n sekere tydperk nie, word daarvan ontslae geraak. Dit is nie binne ons raamwerk om agenteborde vir enige doel op Emoya te gebruik nie en daar is ook geen opdrag daarvoor gegee nie. Ons vra egter om verskoning indien daar so ‘n geval was en sal poog om agter die kap van die byl te kom.” – Maricelle Botha 
maricelle@centralmediagroup.co.za

Share post:

Popular

More like this
Related

R6 million allocated for Bloemfontein Zoo revamp

Mangaung Metro targets full reopening by 2028, plans major...

Universitas Hospital unveils first of its kind surgical robotics system

Universitas Academic Hospital has made history with the official...

Free State Mortuary backlog: 42 autopsies still pending amid urgent efforts

The Free State Department of Health has confirmed that...

Bloem schools bold about bullying

Bullying is more than just verbal or physical abuse...