EFF wys ontevredenheid oor Mac Kay-aanstelling

0
1061

Lede van die EFF in die Vrystaat beplan om vanoggend buite die Trompsburg Primêre skool met plakkate hul ontevredenheid te wys. Die EFF se Kgotso Morapela, sê die onderwyser, Lenard Mac Kay, wat deur die onderwysdepartement by die Laerskool Wilgehof in Bloemfontein afgedank is, hou nou op Trompsburg skool. Morapela kryt Mac Kay uit as ‘n rassis, wat nie bevoeg is om kinders op te voed nie. May is skuldig bevind nadat hy ‘n ou Suid-Afrikaanse landsvlag en foto’s van Julius Malema en bobbejane destyds in sy klaskamer vertoon het.

Morapela, wat die voorsitter van die EFF in die Vrystaat is, sê Mac Kay is deur die departement skuldig bevind en kan op grond daarvan nie skoolhou nie.  Morapela sê EFF-lede gaan op antwoorde van die bestuur van die skool aandring. Die EFF wil weet waarom Mac Kay ‘n onderwyser aan die skool is en wil seker maak dat hy in die pad gesteek word, want “hy hoort nie in die samelewing nie”.

Intussen het die Departement van Onderwys in die Vrystaat sy misnoeë uitgespreek met Mac Kay se aanstelling by dié skool. Onderwyswoordvoerder, Howard Ndaba, het vroeër aan Bloemfontein Courant gesê Mac Kay is in 2014 deur die departement by die Laerskool Wilgehof afgedank ná hy skuldig bevind is in ‘n dissiplinêre verhoor. Mac Kay is afgedank, omdat hy onbehoorlik, skadelik en/of onaanvaarbaar opgetree het.  Volgens Ndaba, is Mac Kay onbevoeg om met kinders te werk al is ‘n skikking, wat destyds deur die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) namens Mac Kay met die Suid-Afrikaanse Raad van Opvoeders (Sace) bereik is, beding. Dit nadat Sace hom skuldig bevind het.

In dié skikking is daar ooreengekom dat Mac Kay se naam op die onderwysersrol opgeskort gaan word vir ‘n tydperk van tien jaar, op voorwaarde dat hy hom nie weer skuldig maak aan dieselfde tipe wangedrag nie.  Ndaba sê hoewel Mac Kay verlede week in ‘n beheerliggaampos by die Trompsburg Primêre skool aangestel is, gaan die departement nie die saak daar laat nie. Die departement wil met dié skool se beheerliggaam vergader in ‘n poging om hom te oortuig dat hy ‘n fout met Mac Kay se tydelike aanstelling gemaak het.

Volgens die sekretaris van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) in die Vrystaat, Reniél Lodewyk, mag Mac Kay op grond van dié skikking deur ‘n beheerliggaam van enige skool aangestel word nadat die skikking in 2014 onderteken en bekragtig is.

Die SAOU het verlede jaar ‘n klag van onbillike ontslag by die Raad vir Arbeidsverhoudinge in die Onderwys (Ravo) ingedien. Dié arbitrasieproses is steeds aan die gang. Die departement wil ook na bewering hê dat die Trompsburg Primêre skool se beheerliggaam Mac Kay nié toelaat om skool te hou totdat die arbitrasieproses afgehandel is nie. – Christal-Lize Muller