Eeufeesvieringe by Vrouemonument beloof kontemporêre blik

0
2127

Maricelle Botha

Oranje Meisieskool het oudergewoonte Vrydag die skool se 106ste verjaardag by die Nasionale Vrouemonument gevier. Wat die viering egter meer spesiaal gemaak het, is die feit dat dit ook die begin van die Vrouemonument se eeufeesvieringe aandui.
Tydens die geleentheid wat deur leerders, onderwysers, oud-leerders asook nasate van pres. M.T. Steyn, bygewoon is, het prof. Piet Strauss, voorsitter van die Vrouemonumentkommissie, ook die hoogtepunte van die museum se feesvieringe uitgelig. Daar sal tussen 14 en 17 November ’n kunstefees by die monument gehou word. Op 16 Desember, 100 jaar na die onthulling van die monument, sal die bekende aktrise, Wilna Snyman, ’n vertolking van Emily Hobhouse lewer.

Die oprig van die museum het destyds sowat R22 000 bedra. Op 1 April is daar met restourasie aan die monument begin, waarvan die koste tans R533 000 beloop. Volgens Straus het Afrikaners hul beursies oogemaak en sodoende gesorg dat hierdie deel van die geskiedenis vir nageslagte bewaar sal word. Hy het ook die vrou se rol in die geskiedenis onderstreep en bygevoeg dat navorsing oor die jare bewys het dat daar bykans 34 000 vroue en kinders in die oorlog gesterf het, veel meer as die 26 000 wat aanvanklik opgeteken is.

Die museum het ook in hierdie eeufeesjaar meer as 100 kontemporêre kunswerke deur van die land se bekendste kunstenaars ontvang. Werke van Willem Boshoff, Diane Victor, Angus Taylor en nog meer bied ’n nuwe, moderne blik op oorlogslyding. ’n Tentoonstelling van die werke sal op Vrouedag (9 Augustus) in die Oorlogsmuseum te sien wees.
Vir meer foto’s van die geleentheid gaan na www.bloemfonteincourant.co.za en kliek op ‘gallery’.

maricelle@centralmediagroup.co.za