Eerste sege vir Shimlas ná drama

0
591
Die UJ-vleuel, Siphiwe Mazibuko, vlieg oor vir sy pragdrie, wat ná die wedstryd teen die Shimlas 'n groot gesprekspunt was. FOTO: HANNES NAUDE

Die Universiteit van die Vrystaat Shimlas het uiteindelik hul eerste sege van die 2020-Varsitybeker behaal nadat hulle Maandag op Shimla-park die Universiteit van Johannesburg (UJ) met 26-25 verslaan het. Dié oorwinning was egter nie sonder drama nie en die span van die Rosestad moes appelleer om hul waardevolle vyf punte in te samel.

UJ het in die doodsnikke ‘n verdoelde drie gedruk, maar die Shimlas het steeds die kragmeting op die telbord gewen. Kort daarna moes hulle egter die proppe terugdruk in die bottels vonkelwyn aangesien die wedstrydbeamptes, die bestuur van die span, asook die spelers van die Goudstad, ander idees gehad het en daarop aangedring het dat die skeidsregter, Cwengile Jadezweni, die beeldmateriaal van die 44ste minuut se drie deur die vleuel Siphiwe Mazibuko, moet nagaan.

Volgens hulle was Mazibuko se drie ‘n sewepunt-drie en nie ‘n vyfpunt-drie nie. Toe die drie in die linkerhoek gedruk is, was dit aanvanklik as ‘n sewepunt-drie toegeken, maar ‘n paar minute later is dit na ‘n vyfpunt-drie verminder. Volgens Jadezweni en sy grensregters was dié drie ‘n sewepunt-drie en dus het hulle besluit om aan UJ die voordeel van ‘n 27-26-telling te gee.

Shimlas het egter binne ‘n uur teen die omstrede beslissing geappelleer en die beeldmateriaal is deur die Varsitybeker-bestuur bestudeer.

Die beeldmaterial wys duidelik dat die vinnige ingooi deur UJ in die Shimlas se helfte van die veld plaasgevind het, maar hulle het egter die bal tot oor die halflyn ingegooi. Die bal is tot by Mazibuko versprei en daar was geen keer aan dié spoedvraat nie, wat ‘n pragdrie gedruk het.

Om in aanmerking te kom vir ‘n sewepunt-drie volgens die Varsitybeker-reëls, moet die punt van oorsprong binne die aanvallende span se helfte van die veld wees. Dit was egter nie die geval nie, en daar is Dinsdagoggend besluit dat Shimlas wel die belangrike houtlepelkragmeting met 26-25 gewen het.

Die Shimlas het die wedstryd met ‘n bonuspunt gewen danksy die woelige haker, Hanno Snyman, wat vier keer oor die doellyn vir die tuisspan gaan kuier het. Al vier dié speler se drieë was oorstootdrieë van lynstane af.

Die uitslag beteken dat die Shimlas tot sewende op die punteleer klim, en in dié stadium is hulle veilig van relegasie, en UJ beklee nou die laaste plek. Die Universiteit van die Wes-Kaapland, wat met 47-10 deur die Sentrale Universiteit van die Vrystaat Ixias afgeransel is, is ook in die rooi sone op die punteleer.

Die Shimlas se breier, Hendro Scholtz, het aan Bloemfontein Courtant gesê dat hulle altyd gedink het dit was ‘n vyfpunt-drie, so hulle is verheug dat die uitspraak in hul guns getel het. “Ons is baie tevrede met die wen. Op die veld het ons gedink at dit ‘n vyfpunt-drie was, omdat hulle die bal tot in hul helfte teruggedra het. Tydens die wedstryd is daar nie veel wat ‘n mens aan die saak kan doen nie, maar ons het onmiddelik na die eindfluitjie geappelleer en Dinsdagoggend die goeie nuus ontvang.

“Ons het ná die wedstryd na die beeldmateriaal gekyk, maar ‘n mens weet nooit hoe die beslissings sal uitdraai nie. Op die einde van die dag is dit seker maar een opinie teen ‘n ander opinie, maar ons is nietemin verheug.

“Ons het by tye baie goeie rugby gespeel, maar ons verdediging het ons op ander tye in die steek gelaat. Daar is egter nou baie druk van ons af en ons kan nou ons laaste twee wedstryde van die reeks geniet.”

Maandagaand sal die Shimlas Ikeys in die Kaap pak, terwyl die sesde geplaasde Ixias in Bloemfontein teen die derde geplaasde Wits te staan sal kom. – MORGAN PIEK