Eerste in die warm stoel

0
277
Louwna Erasmus en Christo du Randt klink 'n glasie saam met die destydse Courant-span toekyk. FOTO: KOBUS ROBBERTZE

Louwna Erasmus was die heel eerste redakteur van Bloemfontein Courant (toe nog Krant). Haar sagte aanslag tot nuus het die koerant gehelp om diep in die harte van Bloemfonteiners te kruip. Pieter Delport, die huidige redakteur, het met Erasmus oor die begindae gesels.

Wanneer het jy redakteur geword en hoe lank was jy in die warm stoel?
Christo du Randt (destyds eienaar van Krant) het my in 2009 genader. Hy het spesifiek iemand gesoek wat wel kon skryf, maar geen koerant-agtergrond gehad het nie. Dit was miskien op die oog af ‘n vreemde versoek, maar hy het geweet dat hy slegs in die mark kon meeding as dit iets heeltemal nuuts was. Ek was vir sowat drie jaar die redakteur.
Hoe het dit gevoel om die eerste redakteur te wees?

Louwna Erasmus

Dit was ‘n nuwe ervaring. Ek het uitgereik na baie plaaslike skrywers soos Tony Ullyatt en Sharon Walker, wat gehelp het om inhoud saam te stel elke week.

Wat was jou en die koerant se grootste uitdagings toe julle begin het?
Die moeilikste uitdaging, dink ek, was om geloofwaardigheid te bou. Daar was destyds reeds twee poniekoerante in die mark, en ons moes so “anders” wees om aandag te trek, maar ook waardig wees vir plaaslike besighede om in ons te belê. Tweedens, het ons geen bemarkingsbegroting gehad nie. Ons het geweldige sukses gehad met die loods van ‘n troukompetisie. Dit het mense voorwaar laat kennis neem van die koerant. Ons het ook elke geleentheid, munisipale vergadering of besigheidsbekendstelling bygewoon sodat mense van ons kon kennis neem. Dit was harde werk, maar darem ook pret!
Hoe het jy dié uitdagings oorkom in jou tyd as redakteur?

Ons het baie hard daaraan gewerk om elke week ‘n goeie produk op straat te hê en die konsekwentheid van ons werk is wyd waargeneem.
Wat sou jy sê was jou grootste prestasies as redakteur?

Dit was waarskynlik om mense te kry om verniet vir ons te skryf. Dit was baie werk vir een skrywer alleen, so ons het ‘n klompie studente gekry by die universiteit – meestal studente in hul finale jaar of honneursstudente in joernalistiek. Dié stelsel het baie goed gewerk, want van hierdie studente het baie goeie joernaliste geword! Ons het darem ook ‘n paar plaaslike toekennings losgeslaan in ons eerste jaar vir beste artikel, beste foto, ensovoorts.
Wat was jou mees onvergeetlike oomblikke by die koerant?

Ek dink die span het dinge regtig onvergeetlik gemaak. Almal het tot laat in die aande gehelp proeflees aan bladsye, selfs al was dit nie hul werk nie! Ek het selfs die reps vergesel om kliënte te gaan besoek. In so ‘n klein onderneming moet almal met alles help. Dit maak vir wonderlike gemeensaamheid en jy maak lewenslange vriende.