Eerste baba-tiertjies vir Bagamoya

0
1265

MARICELLE BOTHA

Botha en Sharine Barnard het Bagmoya Wildlife Estate op die Maselspoortpad sowat 12 jaar gelede met een leeu-mannetjie, Bongane, begin. Met die leeu- en tierjagtery wat hand uitgeruk het, was hul fokus om die diere te beskerm en hulle te laat aanteel. Mettertyd het hulle ook verskeie ander leeus en katte, waaronder Bengaalse tiere, aangekoop om verskillende bloedlyne te vestig. Oor die jare het die leeus aangeteel, maar nooit die tiere nie. Tot onlangs.
Op 13 September het Sharine gou ‘n draai by die tiere se kamp gaan maak toe sy die agt-jarige Jasmine skelm na die draad van die kamp sien kom. By nadere ondersoek het sy gesien dat Jasmine twee baba-tierjies by haar het.
"Sy het die twee babas in my hande gesit en kon sien sy wou hê dat ek hulle moet ‘red’. Ek vermoed sy het die babas gekry en probeer wegsteek, maar Tequila (die mannetjie) het hulle uitgesnuffel. Toe sy die babas vir my bring kon ons sien sy soek hulp – sy het geweet hy gaan hulle doodbyt. Die rede waarom hy dit doen is sodat hy onmiddellik weer met haar kan paar. Hulle is glad nie familie-georiënteerd soos leeus nie. Sy het hulle vreeslik rondgedra en nie eintlik geweet wat om met hulle te doen nie. Eindelik het sy hulle na ons toe gebring uit desperaatheid – gevra om te help! Ek glo sy sou ‘n goeie mamma wees, maar omstandighede het dit verhoed. Ons tref reeds voorbereidings dat indien sy weer babas sou kry, ons haar kan afskort van die mannetjie om haar babas groot te maak ," vertel Sharine.
Nou, drie weke later, is die twee nuwelinge spekvet en gesond en slaap saans in ‘n kampwiegie langs haar bed. Sy vertel die twee sal waarskynlik eers name kry wanneer hulle ‘n maand oud is omdat hulle dan eers persoonlikheid kry.
"Tiere is oor die algemeen die teenoorgestelde van leeus. As babas skree tiere soos kinders wat koliek het. Ek het so min slaap ingekry die afgelope paar weke (my eie vier kinders het my nie eers so wakker gehou in die nag nie). ‘n Baba-tiertjie skop styf as hy opgetel word en cuddle glad nie tot so op vier maande nie," gesels sy oor haar katkinders.
Die twee nuwelinge sal nou grootword in die Barnard-huis en tuin tot so op drie jaar, waarna hulle na groot kampe verskuif sal word. Hulle sal nie by die groter tiere gesit kan word nie, omdat hulle mekaar sal doodmaak. "By leeus en tiere en enige kat gaan dit alles oor dominansie en gebied."
Behalwe vir Bagamoya se twee nuwe inwoners is daar tans vyf tiere op die plaas. Shangaan (10), Jasmine (8), Tequila (5), Isobella (3) en Snow White (2 ).

maricelle@centralmediagroup.co.za