Eer val oud-Grey as afrigter te beurt

0
462
Die nuwe Grey-kollege 1ste XV-afrigter, Jannie Geldenhuys, is 'n gewulde keuse vir die gesogte pos, en vele is van mening dat die sport in goeie hande is. FOTO: MORGAN PIEK

Die rugbyfabriek van Suid-Afrika, Grey-kollege, het ná maande van bespiegeling hul nuwe afrigter vir die 1ste rugbyspan aangestel. Dié eer het Jannie Geldenhuys toegeval.
Geldenhuys, wat reeds vir ‘n geruime tyd by die skool afrig en ook ‘n onderwyser is, het meer as 70 ander kandidate uitgestof vir dié pos, wat beskou word as een van die grootstes in die land.

Geldenhuys is vroeg reeds beskou as voorloper vir die pos, maar die skool het seker gemaak dat hulle hul huiswerk deeglik doen en het ‘n paneel met konsultante aangestel om die proses te hanteer.

Die paneel het ingesluit die oud-Springbokke Naka Drotské en Helgard Muller, skoolhoof Deon Scheepers, Ludwig Koekemoer (Hoof van Sport), Wessel du Plessis (vorige 1ste XV- afrigter), Bobby Joubert (Hoof van Rugby), Jako Liebenberg (Beheerliggaam) en Maryke Nolte (Menslike Hulpbronne). Die huidige Springbokafrigter, Jacques Nienaber, is genader om as konsultant te dien. Die ander konsultante was die oud-Springbok-Seweskaptein, Phillip Snyman, asook Gerrie Swart (Rugby-agent) en André Swanepoel. Laasgenoemde vier is almal ook oud-Greys.

Geldenhuys se opponente vir die pos het die oud-Vrystaatkaptein, Pote Human, wat onder meer ook vir die Griekwas en die Bulle afgerig het, ingesluit. Die oud-Springbok-Sewesspeler, Jonathan Mokuena, wat die Luiperds en die Noordwes Universiteit Pukke afgerig het, en die voormalige Blitsbok-spoedvraat, MJ Mentz, wat ook vantevore vir die Poemas in die Curriebeker gespeel en ook geslyp het, was ook deel daarvan.

Geldenhuys het aan Bloemfontein Courant gesê sy aanstelling is ‘n groot eer en sedert Dinsdagaand het baie emosies die oorhand gehad.

“Dit is ongelooflike groot skoene om vol te staan en dit is ‘n groot eer. Van gisteraand af was daar ook ‘n klomp emosies wat ‘n rol gespeel het. Dit is ‘n ongelooflike uitdaging, wat ‘n mens ook opgewonde maak. Dit is ook ‘n ongelooflike geleentheid om met die seuns te kan werk en dit maak nog meer deure oop vir my om by hulle uit te kom.”

Geldenhuys is reeds sedert 2013 die o.16-afrigter by die skool. Hy is van mening dat die grondslag reeds in plek is en dit is vir seker nie ‘n kwessie van herbou nie, maar eerder een van bou op wat reeds in plek is.

“Die lekkerste deel van dié werk is die ongelooflike ondersteuningspan en die stelsels wat reeds in plek gestel is deur Wessel en Bobby, wat hard gewerk het hieraan. ‘n Ou is baie gelukkig om nou met hulle te kon saamwerk en baie insig te kan hê in die stelsels. Nou kan ‘n mens bydra en verder bou op wat reeds in plek gestel is.”

As ‘n speler was Geldenhuys deel van die 2007-Grey-Kollege 1ste XV, wat steeds beskou word as een van die beste spanne van alle tye. Die span het onder andere spelers soos Robert en Sias Ebersohn, Lappies Labuschagné (Japan-kaptein), Coenie Oosthuizen (Springbok), Boom Prinsloo, Frankie Herne en George Whitehead ingesluit.

Tans is Geldenhuys, wat in sy matriekjaar ‘n prefek in Brill-huis was, ook koshuisvader van Murray-huis. – MORGAN PIEK