Eduané Janse van Rensburg van die Laerskool Universitas was Saterdag tydens die Motheo/Gariepatletiekkampioenskap op die Mangaung-atletiekstadion in Bloemfontein verwoed in die 100m en 200m in die meisies 13 jaar-afdeling.
Dit was veral in die 200m waar sy ‘n waarskuwing aan die res van Suid-Afrika se naellopers in haar ouderdomsgroep gerig het dat indien hulle aanspraak wil maak op goud op die nasionale kampioenskap, hulle haar eers moet klop.
Janse van Rensburg het in die 200m ‘n skitterende kampioenskaprekord van 25,59 opgestel. Meché Ward (Heide, 26,87) en Alex Klopper (Oranje, 27,40) was onderskeidelik tweede en derde. Janse van Rensburg se tyd was vinniger as die tyd (25,67) waarmee Elke van der Westhuizen (Wes-Kaap) verlede jaar die Suid-Afrikaanse titel gebuit het.
Sy het in die 100m ook gewys dat sy nie haar gelyke in die Motheo/Gariep-streek het nie en ‘n wegholoorwinning in 13,03 afgeblits. Klopper het tweede geëindig in 13,65, terwyl Casendra Oelsen (Eunice, 13,63) met die bronsmedalje huis toe is.
Janse van Rensburg is vir haar skitterprestasie in die 200m aangewys as die beste senior baanatleet van die byeenkoms onder die skoner geslag. Shane Blake (Fichardtpark) het die eerbewys ontvang vir die beste junior onder die meisies nadat sy haar ysterbal in die gewigstoot in die 11 jaar-ouderdomsgroep 9,14m deur die lug laat trek het.
Heinrich Theron (Grey, 11 jaar) het die trofee in ontvangs geneem vir die beste seunsvertoning in die senior ouderdomsgroepe. Hy het dié onderskeiding behaal vir sy 13,08m gooi in die gewigstoot 11 jaar. Sy Grey-spanmaat, Joshua Oosthuizen, is aangewys is as die beste junior seunsatleet van die kampioenskap vir sy haastige oorwinning van 9,00 in die 60m vir seuns 9 jaar. – RUFUS BOTHA