Eddie Goldberg nog nie klaar met uitsaai

0
468
Eddie Goldberg

Eddie Goldberg, wat in Durban, Kaapstad en Kempton Park grootgeword het, het nooit kon dink dat hy eendag in Bloemfontein sou land en een van Bloemfontein se mees geliefde radio- en mediapersoonlikhede sou word nie.

Gedurende sy loopbaan het sy planne menigmaal radikaal verander. Ná sy militêre diensplig het hy gedink om onderwyser te word, maar hy het skaars onderwys by Stellenbosch begin swot voordat hy na twee jaar besluit het om op te skop en in ‘n heel ander rigting in te vaar. Vasbeslote om in die mediawêreld te werk en veral by die destydse SAUK, het hy ‘n brief aan hulle geskryf. Hy is genooi vir ‘n oudisie, het dit geslaag en is in 1974 aangestel as klankingenieur by die uitsaaikorporasie. Daarna het Goldberg opleiding ontvang om hom voor te berei vir TV, wat in 1976 geloods is. Hy is toe Kaap toe waar hy vir ‘n hele ruk gewerk het by die televisie se buite-uitsaai-eenheid, waar die stasie sportbyeenkomste en ander nuuswaardige gebeure gedek het.

Na ‘n kort rukkie by die Universiteit van die Wes-Kaap is hy na die destydse Radio Good Hope as omroeper, waar hy in 1986 bevorder is na programbestuurder by die nuwe Radio Algoa in Port Elizabeth. Goldberg was vir ‘n paar jaar daar werksaam todat hy die pos as oorgangsbestuurder by OFM (of Radio-Oranje soos destyds bekend), gekry het.
Goldberg het vir die volgende 17 jaar OFM sy tuiste gemaak, en so een van Bloemfontein se uitsaailegendes geword wat vandag nog met deernis onthou word deur vele Bloemfonteiners. Dit was natuurlik ook gedurende hierdie tyd dat Goldberg sy eie ateljee by sy huis opgerig het om veral radio-advertensies op te neem. In hierdie tyd het hy ook verskeie albums opgeneem, onder meer ‘n gospelalbum vir Gary Bryden.

En vandag? Goldberg is terug Kaap toe in 2007 om by sy kinders te wees, maar het in die radiobedryf gebly. In die volgende paar jaar raak hy betrokke by Radio Tygerberg en die nuwe Radio Disa, waar hy weer eens stasiebestuurder was. ‘n Paar jaar later word hy ook die pos aangebied as stasiebestuurder by Radio Helderberg, waar hy vir sowat 18 maande werk. Hier het hy groot veranderinge aangebring, wat die luisteraarskap verdubbel het, en waar hy in Mei vanjaar klaargemaak het.

Vandag konsentreer Goldberg steeds op sy ateljeewerk, wat hy van sy huis af doen. Hy neem gereeld advertensies sowel as musiekalbums op en doen konsultasies vir radiostasies oor die hele land. So stel hy sy legendariese radiovernuf beskikbaar aan ‘n hele nuwe generasie radiostasies en luisteraars. Goldberg is weer getroud en woon steeds in die Kaap.

Vernon Baumann

info@bloemfonteincourant.co.za