Dwelmmisbruik, ‘n groot probleem in Heidedal, Bloemfontein, het in die verlede telkemale onder die soeklig gekom. Die Heidedal Christian Church het onlangs saam met die Logan K Foundation besluit om ‘n 7-dag-veldtog te loods met die hoop dat kerke hierdie keer betrokke sal raak om saam te staan en te help met stryd teen dwelms in die area.
“Die rede vir ons besluit om kerke te nader, is weens die groot invloed wat hulle in die gemeenskap het; elke mens is op een of ander manier gekoppel aan ‘n kerk,” sê Leon Solomons van die Heidedal Christian Church.
Hy het aan Bloemfontein Courant vertel dat hy en Logan Kruger graag hierdie veldtog in September wil hou en dat datums nader aan die tyd bekend gemaak sal word. Hy sê nog ‘n rede vir die veldtog is om ‘n einde te maak aan die baie ander probleme soos onder meer prostitusie en tienerswangerskappe wat gepaard gaan met dwelmmisbruik. Solomons het verduidelik dat daar in die huidige omstandighede niemand anders is wat meer kan help nie, net God. Niemand kan dit ook op sy eie doen nie, en daarom beplan hulle om baie ander kerke te nader en te verseker dat die gemeenskap as ‘n kollektiewe eenheid verteenwoordig word.
Baie aktiwiteite word beplan vir die 7 dae, onder meer ‘n optog uit verskillende gebiede na die polisiestasie in Heidedal waar ‘n memorandum oorhandig sal word, ‘n opelugdiens en gebedsessies, en ‘n groot afsluitingsgeleentheid waar alle kerke, skole en mense uit die gemeenskap bymekaar gaan kom.
Solomon en Kruger doen ‘n beroep op enige persoon wat op een of ander manier deur dwelmmisbruik geraak word, om met hulle in aanraking te kom. Kruger kan gekontak word by 072-601-6662 en Solomon by 073-253-9835. Die eerste vergadering om die gemeenskap bymekaar te bring en van hulle te hoor, is op om 18:30 op 22 Julie by Heide Primêr. Almal is welkom om die vergadering by te woon.
SAZLY HARZTENBERG
sazly@centralmediagroup.co.za