Dwelmgebruikers al jonger

0
4627

Duane Petrus

Act Now Heidedal, ‘n organisasie wat poog om mense in die dwelmbesmette woonbuurt, Heidedal, te leer om anders te dink oor gevaarlike middels, sê hulle het al kinders so jonk as 9 en 10 jaar teëgekom wat afhanklik is van dwelms. Ds. Cupido Jaftha, mede-stigter van die organisasie, sê: “In party huishoudings het albei ouers nie werk nie, hulle het geen televisie nie en die kinders ervaar groepsdruk in hul vriendekringe. Al dié goed help nie in die weerstand teen dwelmmisbruik nie.”

Bloemfonteinse organisasies wat daagliks werk met jongmense wat afhanklik is van chemiese middels, ervaar ‘n jaarlikse toename in die aantal persone wat hulle behandel. Die Aurora-sentrum in Bloemfontein het 32 jongmense onder 18 jaar in 2011/2012 behandel en 52 tieners in die tydperk 2012/2013. Dit dui op ‘n 9% toename. Dagga word steeds die meeste onder tieners gebruik, maar alkohol, Cat, mandrax, tik en gom word ook op ‘n hoë skaal misbruik.

‘n Voormalige dwelmmisbruiker en smokkelaar wat vier jaar vir bedrog gevonnis is, sê sy lewe het verander toe hy by Aurora se deure instap. *Tony het tydens ‘n fondsinsameling vir Aurora se jeugsentrum in Bloemfontein sy lewensverhaal vertel.  “Daar was ‘n tannie wat vir my Bybelversies gestuur het gedurende my tyd in die tronk en dit het my bemagtig om ‘n besluit te maak om my lewe te verander,” sê hy. “Voor dit het ek dagga in die tronk verkoop en by die  28-bende aangesluit. Ek het mal aangegaan en net aan myself gedink,” vertel hy. Hy is vandag nie meer van enige dwelms afhanklik nie en werk by ‘n firma in die stad. Aurora behandel tans 52 kinders tussen die ouderdom 13 tot 18 wat afhanklik is van chemiese middels.
*Skuilnaam

duane@centralmediagroup.co.za